CrimeNews

Kar jaag glo weg na ongeluk

Terwyl die Tata aanhou skuur, het die agterruit gebreek en Kaitlin het uitgegly en op die teerpad beland.

’n 63-Jarige vrou is verlam en ’n 10-jarige dogtertjie het diep snye opgedoen in ’n ongeluk wat oor die naweek plaasgevind het.

Die voertuig wat na die bewering die oorsaak van die ongeluk was, is skoonveld.

Mnr. Wimpie Frank, die bestuurder van die voertuig waarin sy ma, me. Drienie Frank en sy dogtertjie Kaitlin Mostert beseer is, het gesê hy kan nie glo dat die bestuurder van die ander voertuig net kon weggejaag het nie.

Frank het vertel dat hulle Sondag 26 Maart omstreeks 18:20 op pad terug van Pretoria na eMalahleni onderweg was toe die ongeluk gebeur het.

“Ek het so 110 tot 115km gery en het ’n voertuig verby gevat. Daar was niks in my truspieëltjie toe ek die voertuig verbygesteek het nie. Toe ek langs die kar kom het ek weer in die truspieëltjie gekyk en ligte gesien wegraak. Ek wou net links draai en my flikkerlig was reeds aan toe die kar van agter af gekom en ons gestoot het.”

Kaitlin Mostert (10) het diep snye opgedoen in die ongeluk op Sondag 26 Maart.

Die Tata Indica, wat Franke bestuur het, se agterkant het begin gly en hy het gesê hy het probeer om die kar reguit te hou. Die kar het aanhou stoot van agter af en die Tata het verder gegly en ’n drein aan die oorkant van die pad geslaan.

“Ons het op ons kant geval en so 50m verder geskuur toe die kar op sy dak draai en nog sowat 60m verder skuur.”

Terwyl die Tata aanhou skuur, het die agterruit gebreek en Kaitlin het uitgegly en op die teerpad beland.

’n Aankomende taxi het vir die dogtertjie uitgeswaai, gestop, en die taxibestuurder het Kaitlyn opgetel haar in haar pa se arms kom neerlê.

“My ma het op haar maag binne in die kar gelê. Die kar was onderstebo. Sy het links voor by my gesit voor die ongeluk. Die dokters het bevestig dat sy verlam is,” het Franke gesê.

Die ongeluk het net na Balmoral gebeur.

Franke het gesê as hy moet oordeel aan die vorm van die ligte moes dit ’n groot kar soos ’n Audi, BMW of Mercedes gewees het.

Kaitlin, wat ’n leerder by Laerskool Klipfontein is, het gesê sy het agter geslaap en het gevoel toe iets hulle stamp.

“Ek was baie bang. Toe ek wakker word toe sien ek hoe lyk ons kar. My lyf is nog baie seer.”

Wimpie en sy vrou, Marliese is baie dankbaar dat hul gesin veilig is. Hulle vra dat enige persoon wat die ongeluk gesien gebeur het, of weet watter kar hulle gestamp het hulle kontak op 076 170 8011 of 074 239 4845.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/witbank-news/21518/pedestrian-dragged-n4-dies/

https://www.citizen.co.za/witbank-news/17001/accident-n4-puts-two-hospital/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button