CrimeNews

Klip deur voorruit veroorsaak glo ongeluk

Motoriste word gewaarsku om baie paraat te wees wanneer hul op die snelweg ry, veral in die aand en waar digte bosse die twee snelweë skei.

Die vermoede bestaan dat ’n klip wat deur ’n wit Polo se voorruit gegooi is, ’n ongeluk tot gevolg gehad het.

Op Saterdag, 25 Maart was mnr. Gert Klaas op die N4-snelweg onderweg na sy tuiste in Tasbetpark toe ’n wit Polo wat in die regterbaan was teen hom gebots het. Beide voertuie is toe by ’n wal langs die snelweg af.

“Die ander bestuurder sê dat daar ’n klip deur sy voorruit gegooi is en hy het beheer oor sy voertuig verloor. Ek was in die linkerbaan en hy het teen my vasgery. Die man het gesê dat hy vanaf Pretoria onderweg was,” het Klaas bygevoeg.

Klaas het beserings bokant sy linkeroog opgedoen het en ook op sy voorkop.

“Ek het ’n passasier in die voertuig gehad, maar ons het gelukkig nie baie seergekry nie,” het hy gesê.

Mnr. Dino Padayachee, hoof uitvoerende beampte van Langamed Emergency Management het gesê dat hul ambulansdienste op ’n oproep reageer het en op die toneel afgekom het.

“Met aankoms het Langamed paramedici opgelet dat twee mense beserings opgedoen het op hul gesig en kop. Een het ’n diep sny bokant die lip gehad wat met steke geheg moes word. Langamed paramedici het beide beseerdes behandel en gestabiliseer en na Life Cosmos Hospitaal en Witbank Provinsiale Hospitaal, onderskeidelik geneem vir verdere behandeling,” het Padayachee gesê.

Hy het ook die bewerings op die toneel bevestig, waar dit blyk of ’n klip deur die wit Polo se voorruit gegooi is en die bestuurder ook beseer het.

Die bestuurder van die wit Polo kon teen druktyd nie bereik word nie.

Motoriste word gewaarsku om baie paraat te wees wanneer hul op die snelweg ry, veral in die aand en waar digte bosse die twee snelweë skei.
Twee sake van roekelose of nalatige bestuur is ook by die polisie geopen op Sondag, 26 Maart.

In die eerste geval het polisie die area patrolleer in Bethalstraat toe die beampte op ’n ongeluk afgekom het. Hy het ’n man by die toneel gekry wat hom ingelig het dat ’n voertuig op sy dak beland het en ook dat daar ’n man in die gras lê. Die beseerde is na die naaste hospitaal geneem met ’n ambulans.

’n Klip wat glo deur die wit Polo se voorruit gegooi is, het die bestuurder beheer oor sy voertuig laat verloor. Hy het met ’n ander voertuig gebots en beide is by ’n wal af langs die N4-snelweg op Saterdag, 25 Maart.

Nog ’n voorval op dieselfde dag het in Watermeyerstraat plaasgevind toe beamptes ’n oproep ontvang het van ’n ongeluk. Met aankoms by die toneel het beamptes gesien dat dit reeds opgeklaar was en polisie is ook ingelig dat een insittende van ’n Polo reeds hospitaal toe geneem as gevolg van ’n kopwond. Die polisie is steeds besig met ondersoek rakende die twee laasgenoemde voorvalle.

In ’n persverklaring wat op Dinsdag, 28 Maart uitgereik is, bevestig dit dat die Mpumalanga gemeenskapveiligheid, sekuriteit en skakeling LUR Pat Ngomane, verkeersbeamptes die opdrag gegee het om arrestasies te maak vir dronk en roekelose bestuur. Die afgelope naweek is meer as 25 roekelose bestuurders aangekeer vir verskeie oortredings, in Mpumalanga.

Verkeersbeamptes het 23 bestuurders in hegtenis geneem vir dronkbestuur in eMalahleni, gedurende ’n deurnag operasie op Saterdag, 25 Maart. Alle bestuurders is wel op R1500 borgtog vrygelaat. LUR Ngomane het gesê dat hierdie bestuurders aangekeer moet word om ’n boodskap van ‘geen verdraagsaamheid’ uit te stuur en ook dat meeste ongelukke gebeur wanneer mense onder die invloed is, oor die spoedlimiet ry of ander motors op ’n gevaarlike manier verbysteek.

Hy het ook gesê dat spoedgrense wat buitensporig oorsteek word, aangespreek moet word en dat die skuldige partye moet boet vir hul oortredings.
Die LUR het ook gesê dat verkeersbeamptes sal aanhou om op die uitkyk te wees vir bestuurders wat die wet op hierdie manier oortree.

“Soveel soos wat ons daarin poog om ons wetstoepassings te verbeter en meer operasies uit te voer, hou padverbruikers steeds die sleutel om te verseker dat ons paaie veilig gehou word ten alle tye,” het Ngomane ten slotte gesê.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/witbank-news/77418/snelweg-kapers-sak-weer-toe/

https://www.citizen.co.za/witbank-news/40623/man-sterf-in-ongeluk-op-ou-middelburgpad/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button