
Twee aparte rooftogte op die hoek van Eadie- en Diedericksstraat in die Sentrale Besigheidsgebied (SBG) het twee slagoffers met erge trauma gelaat.
Op 30 Maart in die verkeer van die SBG was mnr. Lourens Cawood die eerste slagoffer van ’n roof. Die voorval het net na 17:00 gebeur.
“Ek het in my kar by die verkeerslig gewag toe twee onbekende mans op my toesak. My venster was ongelukkig oop omdat my voertuig se lugversorger nie werk nie, so ek was ’n maklike teiken,” het Cawood gesê.
Die twee verdagtes het volgens Cawood aan beide kante van sy voertuig gestaan. “Die man wat aan die linkerkant van my voertuig was het my aandag gerkry om aan die deur te pluk en met dit het die ander een sy toegang verkry deur my venster. Hy het in dieselfde oomblik ’n onbekende voorwerp met geweld onder my ken gedruk en my selfoon uit my hemp se sak geruk. Hy het toe aangedring dat ek die paneelkissie oopmaak, maar gelukkig was daar niks om te aas nie.”
Cawood is nie net met trauma agtergelaat nie, maar ook met ’n seer kakebeen.
“Hulle het so vinnig in die verkeer verdwyn soos wat hulle verskyn het,” het Cawood bygevoeg.
Na die roof het Cawood na sy gastehuis gery aangesien hy nie kans gesien het om op daardie oomblik polisie toe te gaan nie.
“’n Mens is verward na so voorval.”
Die volgende dag het Cawood die moed bymekaargeskraap en ’n klag gaan lê by die polisie.
“Daar het ’n openbaring op my gewag toe ’n adjudant-offisier my genader het en begin praat het met my. Sy eerste vraag aan my was ‘Waar sal jy gewees het as dit wel ’n geweer was en die sneller is getrek?’ Waarop ek eerlik geantwoord het, die lykshuis. Hy het geglimlag en ’n uurlange gesprek het gevolg oor reg lewe en God se genade. Ek kan nie die man se naam onthou nie, maar onthou elke woord wat hy gesê het,” het Cawood ten slotte gesê.
In ’n ander voorval op 1 April, net enkele meters van die eerste voorval af, is nog ’n slagoffer gelos met ’n gekneesde siel.
“Ek het my werksdag afgesluit met ’n laaste stop by die winkelsentrum in Diedericksstraat. Soos ek uit die SBG gery en op die N4-snelweg geklim het, het daar ’n silwer voertuig my pad blokkeer. Ek het daar en dan geweet dat daar gevaar is. Ek kon nie eers die maak van die voertuig onthou nie, maar weet dat die vensters baie donker getint was,” het die gebroke slagoffer vertel.
Verder het die slagoffer vertel dat daar ’n man volspoed op haar voertuig afgehardloop het en met die geweerkolf in sy hand die venster wou breek. “Ek het my venster oopgemaak voor hy hom stukkend geslaan het. Hy aanhoudend bly skree ‘money’ ek het sy versoek beaam en die kontant wat in my voertuig was vir hom gegee. Hy het weggehardloop na Witbank Gholfbaan se kant toe. Die voertuig wat my blokkeer het, het ’n U-draai gemaak en weggejaag,” het sy so deur haar trane en snikke vertel.
“Ek wens dit vir niemand toe nie, ek is al deur baie dinge in my lewe, maar dié gebeuret het my die hardste geslaan. Ek is by die huis vir die trauma maar moet een of ander tyd weer my werk in die gesig staar, maar ek is só bang,” het sy ook angstig bygevoeg. Mense moet maar paraat wees, oral waar hul gaan,” het die woordvoerder van Witbank Polisiestasie, kaptein. Eddie Hall ten slotte gesê.
Lees ook:
https://www.citizen.co.za/witbank-news/83523/doodgeskiet-vir-hangertjie-en-selfoon/
https://www.citizen.co.za/witbank-news/62400/ses-jaar-agter-tralies-vir-gewapende-roof/