‘Ek was al hier toe hulle Witbank nog gebou het’
Haar familie doen jaarliks vir haar soveel moeite met haar feesviering
Daar is ’n gesegde wat sê: ‘die lewe is ’n lied’ en me. Marietjie Janse van Rensburg kan met oortuiging sê sy het dié woorde geleef.
Dié wyse vrou het haar 90ste verjaarsdag op 13 April saam vier generasies van haar familie gevier.
Ouma Marietjie, soos almal na haar verwys, het vertel: “Ek was al hier toe hulle Witbank nog gebou het.”
Haar kinders, kleinkinders, agterkleinkinders en agter-agter kleinkinders het van heinde en verre gekom om hulle ma en ouma se mylpaal-verjaarsdag spesiaal te maak.
“Kyk my kinders, die wat almal hier is en die ander, is só goed vir my, maar ek gaan dit nie hardop sê nie want netnou kry hul grootkop,” het Ouma Marietjie so agter deur haar hand speel-speel gesê.

Haar kinders waar sy woon kon nie genoeg prys aan hul bejaarde moeder gee wat steeds op die ouderdom weier om net te sit en te ontvang. “Ons moes my ma se bestuurslisensie op die ouderdom van 78 jaar wegneem, want sy sou net die pad ingevaar het en gatskuur. Sy het ongelukkig soms vergeet wat sy doen of waar sy was, sy het eintlik op ’n dag na my toe gekom en haar sleutel self oorgegee,” vertel haar dogter, Ruby Erasmus met soveel waardering vir haar ma.
Terwyl Ouma Marietjie haar kop met elke woord van haar dogter knik val sy Ruby in die rede en sê: “Ek vergeet daagliks goed, maar nog nooit het ek vergeet om prys aan die Here te gee wat my nog op die ouderdom my lewe laat geniet nie. Ek kan sien, ek kan hoor en ek help nog met huistake ook.”
Haar familie doen jaarliks vir haar soveel moeite met haar feesviering van lewe en het dié jaar besluit dat hulle ouma nog gans te jonk is vir ’n koek en tee affêre en soos hul ouma dit sal noem, ’n regte Afrikaanse braai’ gehou.
“Ag, weet jy dat ek elke dag vir al my kinders, kleinkinders en die ander, wie se name ek nie altyd kan onthou, nie bid. Ek het vanoggend my Bybel gelees sonder ’n bril, kan jy glo! Dan wil die pragtige kinders van my hê ek moet rustig wees, maar vir wat? Ek het al die energie hier binne my so ek sal tot ek besluit, oral en heeltyd help en doenig wees,” het Ouma Marietjie ten slotte gesê.
Dit is duidelik dat Ouma Marietjie nog lank nie reg is om net doelloos rond te sit nie, daarvoor het sy nog te vol skop in haar.
