Mpumalanga se vrywilligers kom byeen
Daar was ’n verskeidenheid van sprekers, insluitend die bekende dr. Gustav Gouws
Byna 100 vrywilligers het van heinde en verre na Middelburg toe gestroom om die Solidariteit Helpende Hand se Mpumalanga-streeksraadvergadering by te woon.
Die streeksraadvergadering vind drie keer per jaar plaas en die doel daarvan is om Helpende Hand se vrywilligers se hande sterk te maak vir die reusagtige taak voor hulle.
Op 4 Maart het 22 takke in die Mpumalanga-streek by die bekende Midway Inn bymekaargekom. Lede het van sover as Pretoria, Komatipoort, Volksrust en Standerton gekom om die geleentheid by te woon.
Daar was ’n verskeidenheid van sprekers, insluitend die bekende dr. Gustav Gouws. Hy het die vraag gevra, wie versorg die versorger? Hy het dit beklemtoon dat die vrywilligers wat by Helpende Hand en ander organisasies betrokke is, meeste van die tyd die ekstra myl loop en soms ook uitgeput en oorlaai voel. Dis dan belangrik om na hulself om te sien anders kan dit op lang termyn skade en uitbranding beteken.
Isabel Faure, Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werker het die takke ingelig oor belangrike maatskaplike sake waarmee hulle te doen kry. Sy het onlangs ’n maatskaplike gids vrygestel wat gebruikersvriendelik is vir vrywilligers wat op grondvlak soms met moeilike vrae gekonfronteer word.
Riaan du Plooy, adjunk-uitvoerende hoof van Helpende Hand het die takke opnuut laat dink oor die belangrikheid van reg gee. Die #geeReg-beginsel laat mense weer dink oor die rede hoekom jy gee. Hy het gesê moenie iets vir iemand anders doen wat hy vir homself kan doen nie en moet ook nie vir iemand iets doen nie maar doen dit saam met hulle. Hierdie beginsel is baie belangrik wanneer Helpende Hand projekte aangepak word.
Takke het hulle suksesverhale gedeel en mekaar bemoedig om ’n verskil in hulle gemeenskappe te gaan maak.
Witbank-tak het ook hierdie geleentheid bygewoon en hulle is daar weg met klomp idees om ‘n verskil te gaan maak. Indien jy betrokke wil raak by die Witbank-tak, kontak gerus Annemarie van Heerden, voorsitter, Helpende Hand, Witbank-tak, by 082 829 2546.
Volgens Alisha de Lange, streeksorganiseerder in Mpumalanga, is dit ‘n riem onder die hart om te sien hoeveel vrywilligers offer hulle eie tyd om op bymekaar te kom sodat daar planne gemaak kan word om ’n verskil te kan maak daar waar hulle betrokke is.
“Die Mpumalanga Helpende Hand streek bars uit sy nate, en ons is dankbaar vir elke vrywilliger se diensbare hart,” het sy gesê.
“Hierdie mense gebruik hulle eie tyd en soms hulpbronne om Helpende Hand se voetspoor duidelik te maak in hulle dorpe. Ons kan miskien nie ’n hele gemeenskap verander nie maar daar waar ons betrokke is, maak ons ‘n verskil een een op ’n slag. En sodoende verander ’n gemeenskap. Baie dankie aan almal wat so onbaatsugtig ’n verskil maak,” het Alisha gesê.
Vir meer inligting oor die projekte wat Helpende Hand in jou dorp het, besoek gerus die Mpumalanga-streek se Facebook-blad by Solidariteit Helpende Hand Mpumalanga Streek, of Solidariteit Helpende Hand Witbank-tak.
