Local newsNews

Tweede aanval deur dieselfde hond

Die toneel van twee kinders wat hardloop vir hulle lewe en ’n seuntjie wat op ’n kar se dak spring en met alles in hom probeer om sy sussie te red van ’n hond wat hap-hap agter haar het afgespeel

’n 16-jarige dogter sterk tans in die hospital aan nadat sy ’n operasie moes ondergaan om weefsel te heg, nadat sy vroeër die week deur ’n hond aangeval is.

Me. Andri Uys het Maandag 24 April in haar motor agter haar twee kinders gery terwyl hulle in Nitastraat, Del Judor X4 gedraf het.

Volgens me. Uys het sy gesien hoe die hek voor ’n huis oopgaan en die volgende oomblik was die hond al op haar dogter, besig om haar te byt.

“My kinders draf weekliks in die buurt se strate, wat ek as ouer voel is veilig,” het Adri gesê.

Volgens die onder-voorsitter van die buurtwag en inwoner in Nitastraat, mnr. Etienne Steenberg het die voorval voor sy oë gebeur.

“Ek was besig in my kombuis toe ek histeriese gille van kinders in die straat hoor. My kombuisvenster kyk op die straat uit en dis hoe ek kon sien wat aan die gang was. Die toneel van twee kinders wat hardloop vir hulle lewe en ’n seuntjie wat op ’n kar se dak spring en met alles in hom probeer om sy sussie te red van ’n hond wat hap-hap agter haar, is wat ek gesien het,” het Steenberg gesê.

Enkele oomblikke na die voorval het buurtwaglede van alle sektore gehaas om hulp te ontbied, maar die dogter se ma was alreeds op pad na Life Cosmos Hospitaal met haar beseerde dogter.

“Ek het my man op pad hospitaal toe gebel en van die voorval vertel en gevra om die kontakbesonderhede van die hond se eienaars te gaan vra, terwyl ek my meisiekind wat huil van pyn, ondersteun,” het me. Uys vertel.

Volgens mnr. Jakes Uys is hy dadelik na die huis waar die voorval gebeur het. “Die eienaars van die hond was baie opstandig en het geweier om enige persoonlike besonderhede uit te gee.

“Daar het in die tyd wat ek die eienaars gekonfronteer het ’n polisievoertuig gestop en ’n beampte het uitgeklim waarop ek na hom toe gegaan het en gevra het om te help. Hy het pleinweg geweier om enigsins deel te raak en was van geen hulp nie. Eers toe ek my telefoon uit my sak ruk en sê dat ek die hele gesprek gaan opneem het beide die polisiebeampte en eienaars van die hond se houding verander en het hulle inligting verskaf,” het mnr. Uys gesê.


Bianca Uys wat Maandag, 24 April deur ’n hond in die straat gebyt is.

Terwyl die inwoners van die straat by die woordverwisseling saamgedrom het, het dit uitgekom dat dié Rottweiler al voorheen ’n persoon gebyt het.

“Dit was twee jaar terug presies twee dae voor Kersfees toe die einste hond my op my regterhand gebyt het, ek nou nog die letsel,” het mnr. Brett Buchan vertel.

Verder het hy vertel dat hy die saak net daar gelos het omdat hy meen “hy nuut in die buurt was” en nie moeilikheid wou maak nie.

“Ek het ook gesukkel om die mense se besonderhede uit hulle te kry en was baie stief behandel toe ek hulle gekonfronteer het. Dus het ek dit maar net daar gelaat en self vir my mediese onkostes betaal,” het Buchan gesê.

Biana Uys is tans in die hospitaal en het ’n operasie ondergaan omdat die weefsel aan die regterkant van haar boud afgeskeer is deur die hond.

“Sy het ’n totaal van 21 steke en is in ongelooflike pyn. Die dokter het gesê dat daar niks weefsel oor was nie. My seuntjie is steeds in skok. Dit voel vir hom of hy nie sy sussie kon red nie, maar hy was die naaste aan my voertuig waar Bianca op die gras gestap het. Wat my bitter kwaad gehad het naas die hond wat my kind aangeval het, is dat die eienaar van die hond vir my kinders geskree het om te stop in hulle spore. Dit sou dan net erger uitgedraai het, dink ek,” het Adri briesend gesê.

Die eienaars van die hond, mnr. Brand en me. Madelon Troskie wou geen kommentaar lewer behalwe dat die aantuigings wat op die dag gemaak is, absurd is nie.

“Een ding is vir seker! Ek gaan nie hierdie saak laat gaan nie. Wat verkeerd is, is verkeerd. Wat my die meeste gegrief het was die feit dat een van die familielede die vermetelheid gehad het om my vrou te vloek. Wat se man praat so met ’n vrou?” het Uys gesê.

Volgens die inwoners en die voorsitter van die buurtwag en lid van die SACCW, mnr. Stanley White voel hulle dat dit elke individu se verantwoordelikheid is om te sorg dat hulle troeteldiere in toom gehou moet word, asook in die erf. White het ook bygevoeg dat hy dink die hele voorval is nie reg hanteer op die dag van die gebeure nie.

Die gesamentlike direkteur van SACCW (South African Community Crime Watch) Mpumalanga, mnr. David Wessels het gemeen,

“As ’n persoon ’n kwaai hond besit wat ’n bedreiging vir die lede van die publiek is, is dit die eienaar se verantwoordelikheid om te verseker dat hierdie dier nie in ’n openbaar toegelaat word nie. Dit is bevestig dat verdere ondersoek getoon het dat dit nie die eerste keer is wat dié hond ’n mens gebyt het nie. Ek hoop regtig vir ’n vinnige en volledige herstel vir die jong meisie.”

Mnr. Uys het aangedui dat hy ook ’n klag teen die polisiebeampte gaan lê.

Die polisiewoordvoerder was nie beskikbaar vir kommentaar oor die bewerings dat die beampte nie hulp wou verleen nie.

LEES OOK:

https://www.citizen.co.za/witbank-news/7118/luane-terug-skool-toe-na-hond-haar-byt/

https://www.citizen.co.za/witbank-news/72160/honde-word-uitgewis-en-inwoners-besteel/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button