
Daar heers stilswye oor sommige ‘ouer’ spelers wat soos stoomtreine geblaas en gesteun het en daar word liewer gefokus op die goeie sportmangees wat geheers het tydens die ‘Ou Manne’ en ‘Ou Dames’ se jaarlikse wedstryde.
Oud-leerders van eMalahleni se twee grootste hoërskole, Hoërskool Generaal Hertzog en die Hoër Tegniese Skool het mekaar Vrydag, 2 Junie, gewys dat hulle nog lank nie oor die muur is nie en die jonges gewys hoe daar nou eintlik rugby en netbal gespeel moet word.

Die dag het afgeskop met verskeie 7’s wedstryde toernooi tussen die laerskole van die stad.
In die Klub Maroen 7’s toernooi het albei spanne van Laerskool Taalfees die Plaat en Beker gewen. Die beste spelers van die toenooi was Lieben Jankowitz van Laerskool Taalfees wat as die beste voorspeler en CJ Liebenberg van Laerskool Kragbron wat as die beste agterspeler, aangewys is.
Die ‘ouer’ dames het daarna gewys dat doelgooi geen probleem is nie en dat hulle nog mooi kan mik . HGH se ‘ouer dames’ het met HTS se span afgereken met ’n naelskraap oorwinning van 20-17.

In die Klub Maroen ‘Ou Manne’ rugbywedstryd het HTS se manne geseëvier met ’n weghol-oorwinning van 41-5.
Die Maroen Klub bedank al die ondersteuners wat deur die dag kom ondersteun het. Dankie aan Helpende Hand Solidariteit wat saamgewerk het met die klub om die dag ’n reuse sukses te maak.
’n Groot dankie ook aan mnr. Phillip Basson vir die borg van die ‘Old Boys’ trofee.
