
“Ek gaan nie weer terug huis toe nie.”
Na die aanval op me. Petro la Grange van Ga-Nala op 7 Junie het die huis waarin sy gebly het net slegte herinneringe.
Sy is in die vroeë oggendure net na 04:00 in haar bed oorval.
“Ek vermoed hulle het my ‘lights out’ geslaan. Daar was drie figure in my kamer,” het Petro (59) vertel.
Haar arm is in die aanval gebreek, haar liggaam is oortrek van kneusplekke wat getuig van die meedoënlose houe en sy moes steke vir ’n wond aan haar kop kry. Sy is ook gewurg.
LEES OOK
Vrou glo aangeval na bestuurder haar nooi om foto te neem
“Die vrouens wat my ma se huis skoongemaak het, het gesê dit lyk of ’n bok daar geslag was. Hulle moes al my ma se beddegoed weggooi,” het haar dogter Chantelle Williams gesê.
Na die aanval het La Grange kombuis toe gestrompel en die glasgoed van die kas afgegooi in ’n poging om die huurder in die woonstel langs haar huis se aandag te trek.
Die huurder het haar te hulp gesnel.

Me. Petro la Grange.
Die aanvallers het ’n televisie, selfone en juwele gebuit.
“Ek leef. Dis al wat saak maak. Ek wil nie weer huis toe gaan nie.”
La Grange het jare lank die winkeltjie, Lekkerbek op die dorp gehad. Sy het na haar man se dood in 2017 alleen gebly en die woonstel uitverhuur.
