
Die moord op ’n 51-jarige vrou en ma van vier het skokgolwe deur eMalahleni gestuur.
Me. Letitia Jacobs (51) is vermoedelik verwurg en polisie vermoed ook dat sy seksueel aangerand is. Die voorval het Dinsdag 17 Julie tussen 11:00 en 12:00 by Jacobs se huis in Springboklaan, Tasbetpark plaasgevind.
Die polisie het na die voorval ’n grootskaalse soektog na twee mans, wat laaste op die toneel gesien is, begin. Polisiebeamptes en reaksielede van South African Community Crime Watch (SACCW) het die area gefynkam.

Mnr. André Jacobs wys sy misnoee met die polisie se gebrek aan optrede op die toneel waar sy vrou, Letitia jacobs Dinsdag 17 Julie vermoor is. Sy is glo by twee vorige geleenthede aangeval, waarop die polisie nie reageer het nie.
“Daar is vanaf Spring Valley tot die N12 gesoek, die soektog het tot voor Kendal gevorder. Die helikopter is ook ingespan deur Casper Janse van Rensburg en Piet Wassenaar het die hele area gefynkam vanaf die huis met die helikopter om die verdagtes te soek,” het me. Maureen Scheepers van SACCW gesê.
“Op die stadium weet ons wel dat die verdagtes bekend was aan beide die gemeenskap en die oorledene en sal Witbank Polisie alles in hul vermoë doen om die saak op te los,” het woordvoerder, sersant David Ratau gesê.
LEES OOK
Jongman (21) dood gevind op plaas
Mnr. John Mathope, die man wat op Jacobs se liggaam afgekom het, het aan die polisie gesê dat hy hondekos by Jacobs gekoop het net voor die voorval.
“Ek het twee sakke in plaas van een gevat. Letitia het my gesê ek skuld haar nog geld en ek het toe gou gery om die geld te trek. Toe ek daar loop, was daar ’n klein Nissan bakkie, ’n ‘electrician’ maatskappy bakkie of iets en ’n man wat al voorheen daar gewerk het,” het hy vertel.
Met Mathope se terugkeer het hy op die grutoneel afkom.
“Toe ek terugkom het ek by die hek gestaan en skree, maar niemand het geantwoord nie. Dis toe dat ek in die erf ingaan en na die agterdeur toe loop waar ons laaste gepraat het,” het hy gesê.
Mathote het haar lewelose liggaam daar sien lê en histeries vir hulp begin skree. ’n Inwoner wat oorkant die pad was, het op sy hulpkrete reageer en dadelik op die SACCW-kanaal vir hulp gevra.
Met ER24 ambulansdienste se aankoms op die toneel is Jacobs dood verklaar.

Me. Letitia Jacobs (51) wat dood gevind was in haar huis.
Terwyl daar gewag is op die forensiese span, het die oorledene se man, mnr. André Jacobs op die toneel aangekom. Hy het verward uit sy bakkie geklim en gevra wat aan die gang is, waarna die polisie hom die slegte nuus meegedeel het.
“Wie het my vrou vermoor? Wat soek julle nou hier? Toe my vrou twee maande terug aangerand is in ons huis, het julle nie uitgekom nie. Toe sy twee weke terug oorval is by ons hek, het julle nie uitgekom nie. Maar toe my hond iemand in my eie erf byt, toe kom julle uit en vertel my dat my hond nie vreemde mense in my erf mag byt nie,” het Jacobs kwaad aan die polisie gesê.
Verbitterd en hartseer het Jacobs gesê,
“die wêreld het een ongelooflike vrou verloor. Daar is nie nog een soos sy nie. Sy was werklik ’n vrou om op trots te wees.”
Jacobs laat haar man en vier kinders agter. Haar twee volwasse kinders woon onderskeidelik oorsee en in Port Elizabeth. Die twee jonger seuns is nog in die laerskool.
