Local newsNews

Charles op pad na herstel

Ek het begin drink en lyne vat.

Charles David (22) se lewe het al wilde draaie met hom geloop. Maar die heroïneduiwel is geen man se maat.

In sy ‘nuwe huis’ het hy vertel hoe dié duiwel hom beetgehad het, maar dat hy dankbaar is vir oom Frik en Tannie Estelle van Dyk.

“Ek het die mannetjie by die verkeerslig gesien so rukkie terug. My binneste het vir my gesê hy hoort nie hier nie. Ek het vir hom gesê ons sal weer praat en toe gery. Ons het omtrent so week daarna ’n ‘drug bust’ gaan doen agter Cash Build en hom saam ’n ander outjie daar gekry. Ek het vir hom gesê dat hy my more by ’n nabygeleë vulstasie moet kry,” het oom Frik vertel.

Charles voeg toe by: “JP wat saam die oom daar was, het vir my gesê dat ek nie die geleentheid moet opf*k nie. Iewers het iets binne my wakker geword, want nie lank terug nie, het ek by die einste robot gestaan en bid vir iemand om my te help. Ek was daai tyd vet gespuit. Ek het besluit om na die garage toe te gaan. Daar het JP my gekry en nou is ek hier.”

Charles se pad na herstel was alles behalwe maklik.

Nadat hy ’n voorskrif gekry het by ’n plaaslike dokter vir Methodone, het hy die rehabilitasieproses afgeskop.

Die dwelms het sy greep op Charles gevat op ’n baie jong ouderdom en hy het vertel hoe: “Ek het vir die eerste keer dagga gerook toe ek 11 was.

Ek het begin drink en lyne vat.

Meestal coke en cat.

Toe was ek so 14.

Ek was daai tyd in Krugersdorp en vir die eerste keer thy (heroïne) gerook toe ek tussen 16 en 17 jaar oud was.

Dit was eintlik maar net so once in a blue moon. Ek was daai tyd in ’n privaatskool en het ’n meisie ontmoet.

Ons het haar ma van oor die R40 000 besteel om ons verslawing te onderhou. Ek het ook ’n tweeling by haar…”

Hy het vertel dat hy Pretoria toe gegaan het kort daarna en by sy ma gaan bly het.

“Ek het toe maar besluit dat ek nie my ma gaan besteel nie en het op straat gaan bly. Ek het ’n karwag job gehad om my habit te support en omtrent ’n jaar so aangeploeter. My pa het vir my ’n rehab georganise en ek was ’n jaar daar. Ek het die muur gejump en ge-overdose op heroïne.”

LEES OOK:

Emalahleni in desperate need of help

‘You will do things you regret’

Hy het verder vertel:

“Ek het by KFC teen ’n boom uitgepass. Ekt wakker geword en gevoel ek is nat. Ek het my gesig afgevee en gesien dis net bloed. Die miere het my begin eet. Ek het wakker geword met die naald nog in my arm. Ek kon nie wegkom van die miere af nie en ek het geskree vir iemand om my te help. ’n Ou het langs die pad gestop en die ambulansmense het my afgespuit met ’n brandblusser. Ek het wakker geword in die hospitaal. Na so paar keer wat ek wakker geword het en weer uitgepass het, het ek gevra hoeveel ure ek nog hier gaan lê. Die verpleegster het vir my gesê dat ek al twee weke hier lê. Die dokter het daar aangekom en gesê dat ek net ’n paar weke oor het om te lewe en gevra vir kontakte van familie. Ek het myself uitgeteken en weer gaan spuit.”

Charles het gesê dat sy lewer begin oppak het en sy niere beskadig was.

Hy het ook gesê dat sy bloed vergiftig was.

“Ek was vir bietjie meer as ’n week op straat en toe my male in die hande probeer kry. Ek was in Pretoria toe een van die ander druggies vir my sê daar is so dik tannie wat my soek. Ek het ’n please call me van ’n tiekieboks af gestuur. My ouma en my ma het my kom soek. Daarna was ek weer ses of sewe maande in rehab en daarna het iemand vir my werk georganise in Secunda. Ek was ’n maintenance manager vir so rukkie maar ek het niemand gehad wat my bygestaan het nie. Toe het ek weer teruggeval. Ek was daarna in PE vir so rukkie en ’n vriend het my hiernatoe laat kom. Ek het moeilikheid gemaak en ek is by hom ook weg. Ek het vir so week by my pa gebly en toe gaan bly ek agter Cashbuild. Dis toe oom Frik my gekry het.”

Tannie Estelle het bygevoeg dat die onttrekking soms nog daar is, soos maagkrampe, opgooi en dat Charles nie kan slaap nie.

“Maar ek voer hom net. Hy eet ons byna uit die huis uit,” het sy laggend vertel. “Ons het vir hom bokshandskoene gegee, hy luister musiek as hy nie kan slaap nie en hy werk baie. Hy werk hard saam oom Frik. Hy weet wat vir hom wag as hy homself aan ons bewys.”

“Jy voel jy gaan doodgaan sonder daai goed. Jy sal enigiets doen vir ’n fix. Heroïne is soos ’n demoon wat ’n houvas op jou het. Jou kop moet reg wees. Jy moet met jou hart en siel weet. Hier is ek deel van ’n familie. Ek het met die bag en naald in my hande gestaan en besluit ek gaan eerder skoon kom. Ek wou nie teruggaan na daai hel toe nie,” het Charles ten slotte gesê.

Back to top button