
’n Inwoner van Blancheville is woedend omdat hy twee dae lank moes wag vir die munisipaliteit om hom te help met water wat sy erf oorstroom het.
Mnr. Kobus Groenewald het die munisipaliteit en ook sy wyksraadslid, Donderdag, 16 Augustus gevra om die water na sy erf af te sit omdat ’n pyp in sy erf gebars het en daar geen toedraai-kraan buite sy erf was nie.
Uit radeloosheid uit, het mnr. Groenewald WITBANK NUUS, Vrydag, 17 Augustus gebel.
Mnr. Roy Cronje, die wyksraadslid, het gesê dat hy die probleem aangemeld het toe mnr. Groenewald hom die eerste keer gebel het. Hy kon nie glo dat die munisipaliteit nog nie by die huis was om die water toe te draai nie.
LEES OOK
AfriForum Witbank-tak oorhandig wenslys aan munisipaliteit
Die koerant het ingegryp en die waterafdeling gebel. Nie lank daarna nie was hulle by mnr. Groenewald se huis en die probleem is in ’n japtrap opgelos.
Die munisipaliteit het ’n watermeter by Groenewald se huis ingesit nadat kontrakteurs sy watermeter verwyder het toe hulle ’n nuwe watertoevoerpyp in Avrilstraat gelê het. By die nuwe watermeter is die kraan aangebring wat toegedraai kan word as ’n probleem sou ontstaan.

Mnr. Kobus Groenewald is woedend oor die duisende liters water wat in sy erf vermors is.
Mnr. Groenewald het ook uitgevaar teenoor die munisipaliteit oor sy dienste rekening wat ook heeltemal deurmekaar is.
Vir drie maande lank het die munisipaliteit hom op ’n ongemeterde tarief vir sy elektrisiteit aangeslaan.
“Ek het ’n werkende elektrisiteitmeter en toe ek gaan navrae doen, is ek omtrent stief behandel,” het Groenewald gesê.
Die probleem op mnr. Groenewald se rekening is onder die munisipaliteit se aandag gebring en hulle gaan die klagte ondersoek.
