Local newsNews

Bejaarde in hospitaal na verwaarlosing

“Kom oumatjie, jy moet ’n happie vat.”

“Kom oumatjie, jy moet ’n happie vat.”

Met sagte hande het verpleegassistent Zandile Lubisi oor die 82-jarige me. Heleen Dinkelmann se wang gevee en haar aangepor om net nog een happie fyngemaakte wortels te eet.


Me. Lucille van Gas waak oor haar ouma, me. Heleen Dinkelmann.

Dinkelmann is Saterdag, 23 September, in Emalahleni Private Hospital (EPH) opgeneem nadat sy baie verwaarloos in haar kamer gevind is. Sy is opgeneem met erge dehidrasie, nierversaking en longontsteking.

Me. Annemarie van Heerden van Helpende Hand Solidariteit het die vooraf gebeure met trane in haar oë oorgedra.

LEES OOK

Vrou smeek ‘Here, help ons asseblief!’ tydens aanval

Bejaarde met kruis gesteek

Sy het hortend vertel dat hulle ’n anonieme oproep gekry het en gevra is om ondersoek in te stel na Dinkelmann se toestand.
Dinkelmann loseer privaat by ’n vrou in eMalahleni.

“Sr. Sylvia Hartzenberg het gaan inloer en my laat weet dat die bejaarde vrou onmiddellik mediese hulp nodig het,” het Van Heerden gesê.

Legacy Emergency Specialists het dadelik ingestem om Dinkelmann na EPH toe te vervoer.

Paramedikus, mnr. Phillip du Plessis het die brose bejaarde self na die ambulans gedra.

“Met huiwering het ek ouma se brose liggaam opgetel met die hoop om nie te hard te vat en haar te kneus nie. Die las op my hart was swaarder as die las op my spiere. Dit was moeilik om die trane terug te hou. Ek het gehoop en bid dat die engele sal oorneem en haar veilig hou tot ons haar by die hospitaal kon kry,” het Du Plessis baie emosioneel gesê.

Terwyl daar stilweg in die hospitaalgange vir ’n wonderwerk gebid en gesmeek was, het dokters onverpoos gewerk om Dinkelmann te stabiliseer.


Verpleegassistent Zandile Lubisi voer me. Heleen Dinkelmann geduldig.

Me. Lucille van Gas, Dinkelmann se kleindogter, het verslae gesê dat sy nie bewus was van haar ouma se toestand nie.

“Ons was onder die indruk ouma was goed versorg. My oom se dood verlede jaar het haar hard geslaan. Sy was nog altyd ’n sterk vrou, ons steunpilaar. Ek sou nooit in my wildste drome kon dink dat sy so afgeskeep is nie,” het Van Gas gesê.

Van Gas het gesê haar ouma het verlede jaar na ’n inbraak besluit om te gaan loseer eerder om as alleen te bly.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button