Local newsNews

Karongeluk eis lewe van jong meisie

Byna 300 mense het verlede week die roudiens van Carlita Heyns hier in haar tuisdorp bygewoon.

Byna 300 mense het verlede week die roudiens van Carlita Heyns hier in haar tuisdorp bygewoon.

Carlita was Sondag, 7 Oktober, saam met twee mede studente in’n motorongeluk betrokke wat haar lewe geëis het.

Die ongeluk het op ’n grondpad oppad terug na die Sondela Natuurreservaat, waar die driestuks studente by die Sondela Akademie is, gebeur. Die Nissan Juke het volgens die polisie omstreeks 18:00 op die grondpad langs die N1 gerol.

Nooddienste is na die toneel gestuur en die twee beseerdes is na privaat hospitale geneem. Carlita is op die toneel dood verklaar.

Die oorsaak van die ongeluk bly steeds onbekend. Carlita se dood het ’n groot opskudding op sosiale media veroorsaak en baie mense het hul meegevoel met haar gesin en geliefdes betuig.

’n Roudiens ter ere van Carlita is Woensdag, 10 Oktober, by die AGS Neo Doxa Gemeente, gehou. Op Vrydag, 12 Oktober, is ’n gedenkdiens vir haar by die Sondela Reservaat gehou.

LEES OOK

Kar jaag glo weg na ongeluk

Ma en seuntjie dood in ongeluk

“Sondela het die Donderdagaand nog vir ons ’n braai gehou op die plaas, ek het so naby aan Carlita daar gevoel,” het Elsabé Heyns, Carlita se ma vertel.

“Carlita was ’n gelukkige kind, sy het haar nooit bekommer oor die dag van more nie, sy het elke dag voluit geleef,” het Elsabé gesê.

Sy het in 2017 gematrikuleer aan die Hoërskool Generaal Hertzog en het in 2018 haar studies by Sondela Akademie begin.

“Sy het haar droom geleef, sy het gedoen wat haar gelukkig maak. Sy was avontuurlustig.”

Carlita was ’n uitblinker in alles wat sy aangepak het. Sy het naam gemaak op die atletiekveld, netbalbaan en selfs in die kultuurteater. Sy het ook in akademie uitgeblink en het fantastiese leierseienskappe gehad.


Carlita Heyns op haar matriekafskeid in 2017.

“My sussa, dit was nog nooit so moeilik soos nou om vir jou bye te sê nie, ek gaan jou ongelooflik baie mis. Jy is my alles en jou plek in my hart sal nooit vervang kan word nie. Dankie dat jy die beste vriendin ooit was, ek sal jou altyd so baie waardeer. Rus in vrede tot eendag weer my beautiful vriendin,” het Marissa Marais, Carlita se beste vriendin, vir die laaste keer gegroet.

McLaren Bezuidenhoudt, een van Carlita se vriende het ook ’n herinnering gedeel wat hy nooit sal vergeet nie.

“Ons het elke oggend net voor rekordeksamen bymekaar gekom en saam geleer, sy moes my help om drama te slaag. Ons vriendekring het omtrent elke dag na my huis toe gegaan om net oor dom goed te gesels, ons het natuurlik vir ons ouers vertel dat hierdie kuiertjies belangrik was omdat ons die matriekvakansie moet beplan.”

Carlita laat haar ma, Elsabé, haar pa, Johan en haar jonger sussie, Juzané agter.

“Die goeie herinneringe wat ons het en wat almal wat deel was van Carlita se lewe met ons deel, is wat ons gesin aan die gang hou. Dit hou ons rustig om te weet dat daar waar sy nou is, sy nooit weer hartseer, pyn of leed sal ervaar nie. Nou sien ons daarna uit om haar eendag weer te sien,” het Elsabé ten slotte gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button