Kleinste perdjie met die grootste wil om te leef
Die baksteenpaadjie na die stalle toe word nou meer gebruik as ander kere.
Op Riverview Stables heers ’n opgewondenheid wat skaars in toom gehou kan word.
Die baksteenpaadjie na die stalle toe word nou meer gebruik as ander kere.
Almal stroom om klein River te ontmoet.
Alhoewel dié perdjie net 32cm in hoogte was toe sy op 31 Julie gebore is, het sy reeds almal in die palms van haar vier hoefies.
River is ’n miniatuurperdjie en volgens haar eienaar, me. Yolandie Kemp Bezuidenhout, is daar nog nie genoegsame bewyse dat sy die dwerg-geen het nie.
Maar, River se vier beentjies is baie gebreklik.
Toe Yolandie sien in watter toestand River se beentjies is, was haar eerste gedagte om haar te laat uitsit.
“Sy kon nie eers opstaan nie. Ek was op pad kar toe om die veearts te bel toe my wederhelfte, Pieter, my roep. Toe ek omdraai en ek sien die dapper klein dingetjie stap na haar ma toe om te drink, het ek geweet …. River is hier om te bly.”
Die vulletjie se beentjies word elke dag verbind. Yolandie het ’n plan gemaak en plastiekpype gevat, dit in die lengte deurgesny en met verbande verbind.
Haxleigh Farriers het ’n dokter saamgebring en daar is ingespring en stutte vir River se beentjies gemaak.
Dié plan het egter nie gewerk nie.
Kenners vanuit Amerika het ook hulp aangebied en River se nuwe ‘skoene’ is amper hier.
Elke dag word die vulletjie net sterker en as sy Yolandie nie sien nie, runnik sy tot Yolandie haar geroep hoor.
Sy weet as haar mens-ma daar is, word sy gesoen, gekielie en agter haar oor gekrap tot sy omval van lekkerte.
Dié klein woelwater het baie mense die afgelope twee weke aangeraak.
Haar wil om te oorleef is sterker as perde twintig maal haar grootte.
“Daar is soveel mense wat haar klaar liefhet. Sy bewys ons elke dag verkeerd. Ek raak moedeloos en kan die tranedal oor die klein wonderwerk wat die wil het om almal verkeerd te bewys, net nie keer nie. Dan vee ek maar die trane af en baklei net so hard saam met haar,” het Yolandie gesê.
Daar word nou in perdekringe bespiegel dat River die kleinste miniatuurperdjie is wat tot nou toe gebore is.
