Blignaut-gesin sê dankie
Angel-Lee is twee dae later in die hospitaal dood as gevolg van beserings wat sy tydens die ongeluk opgedoen het
Gebede, boodskappe, telefoonoproepe … dit is wat die Blignaut gesin tot nou toe gedra het.
“Aan elke persoon wat ons vanaf 29 Junie tot en met vandag en die dae wat kom bystaan, dankie. Elke liewe boodskappie, elke liewe foonoproep, elke liewe Facebook plasing, die kuiertjies en veral vir almal se gebede. Elke persoon het bygedra vir die krag wat ons van ons Hemelse Pappa gekry het om deur die tragedie te gaan. Julle almal is engele gestuur op ons pad. Ek weet die paadjie wat vir ons voorlê is nie baie maklik nie, maar die Here sal ons dra en ons het soveel van julle om voor dankie te sê vir die ondersteuning. Ons is so geseënd, vir seker. En vir my klink dankie net leeg, dit voel nie genoeg nie, want my hart loop oor van dankbaarheid vir almal.”
Die boodskap op sosiale media is deur Jaen-Mari Blignaut geplaas.
Sy en haar man, Tommie is die afgelope maand deur diep waters.
Hulle drie kinders, Angel-Lee, Caylin en Jessie James was saam met hul oom en tannie in ’n motorongeluk op die N14 in Ventersdorp se rigting betrokke.
Angel-Lee is twee dae later in die hospitaal dood as gevolg van beserings wat sy tydens die ongeluk opgedoen het.
Volgens ooggetuies het die bestuurder van ’n voertuig van agter ’n vragmotor af in die kar vasgery waarin die Blignaut kinders saam met mnr. Koos Meyer en me. Rina Marais gery het.
“Ooggetuies het gesê hulle weet nie of die bestuurder aan die slaap geraak het of vir ’n gat aan die kant van die pad af uitgeswaai het en voor Koos ingery het nie,” het Jaen-Mari vertel.
Mnr. Meyer, sowel as die passasier van die ander kar, is op die toneel dood.
Me. Marais is die afgelope naweek uit die intensiewe sorgeenheid van Linmed Hospitaal na die hoësorgeenheid geskuif.
Cailyn (13) sterk steeds by die huis aan. Haar kakebeen is op twee plekke gebreek, haar sleutelbeen en pelvis is ook gebreek en haar een long het platgeval.
Sy gaan Vrydag 26 Julie vir ’n opvolgbesoek by Linmed Hospitaal.
Die vyfjarige Jessie James het harsingskudding opgedoen, sagte weefsel beserings en sy longetjie het ook platgeval.
“Jessie James is weer aan die gang. Die mannetjie hou ons besig. Omdat hy skade aan sy longetjie wat platgeval het opgedoen het, moet ons net altyd seker maak dat hy gesond bly,” het Jaen-Mari gesê.
Op Angel-Lee se begrafnis is wit en pienk ballonne die lug in vrygelaat.
“Toe ons opkyk het die ballonne ’n ‘unicorn’ gevorm wat duidelik teen die blou van die lug afgesteek het. Daar het ek besef Angel-Lee is oukei, sy is by Jesus.”
Jaen-Mari en Tommie wil graag van die geleentheid gebruik maak om elkeen te bedank.
“Neels Koekemoer se Funeral Home, dankie vir jul vinnige optrede en hulp om Angel-Lee’tjie terug te bring eMalahleni toe en vir alles wat julle vir ons gedoen het in die kort tydjie. Vir Laerskool Klipfontein en al die personeel, dankie vir julle hulp en bystand. Remax, Jorge Gomes van Pro Audio, Linmed en Busamed Hospitale, al die mense van ER24 van Randfontein op die ongelukstoneel, ons dankie sal net nooit genoeg wees nie. Pastoor Dewald Uys van Ligkruis Bronkhorstpruit en die tannies van die gemeente wat vir ons die kossies gemaak het vir Angel-Lee se gedenkdiens, pastoor Johnny Fraser van PPK Mooi Hawens vir die gebruik van die kerk vir Angel-Lee se diens en Melanie Halberg vir al haar moeite met die gedenkdiens, baie dankie. WITBANK NUUS, baie dankie vir die mooi berig oor Angel-Lee.”
LEES ANDER BERIG: Angel-Lee is huistoe https://www.citizen.co.za/witbank-news/132762/angel-lee-huistoe/
