Local newsNews

Alles behalwe Bybel brand

Haar dogter het begin vertel wat eintlik op die aand van die huisbrand gebeur het en dat alles tot niet verbrand het behalwe haar Bybel

Twee weke sedert die huis van me. Corrie Smit gebrand het, staan die gemeenskap nog bankvas agter die 84-jarige vrou terwyl sy aansterk in Life Cosmos hospitaal.

“My ma is tans in teater vir die vyfde keer vandat sy opgeneem is met derdegraadse brandwonde,” het haar dogter Nelie Des Hoole gesê op 23 Julie.

WITBANK NUUS het vroeër in ’n artikel berig dat ’n huis in Tasbet Park op 14 Julie aan die brand geslaan het en die gemeenskap ingespring het om die vrou te red en die brand te blus.

Volgens Tannie Corrie se dogter gaan dit goed met haar.

“Sy kla nooit nie en sy maak steeds haar stoute grappies. Dit gaan goed met haar omdat haar gees steeds gesond is,” het Nelie gesê.

Haar dogter het begin vertel wat eintlik op die aand van die huisbrand gebeur het en dat alles tot niet verbrand het behalwe haar Bybel.

“Haar bure was die ware helde wat my dadelik in kennis gestel het dat my ma se huis aan die brand is. Ek sal ver ewig dankbaar wees vir Johan Fourie, Lydia Steyn en Tienie Oosthuizen wat hulle lewe gewaag het om my ma se lewe te red,” het sy dankbaar vertel.

Tannie Corrie was nie alleen in die huis nie, maar het haar twee gestremde kinders en haar hondjie saam haar in die huis gehad toe daar vermoedelik ’n kers omgeval het en die vuur begin het.

“Sy het toe my sussie en neef uit die huis gekry en toe terug gegaan en die vuur probeer blus met ’n 5 liter emmertjie. Dis toe sy vasgekeer was in die huis,” het sy ook vertel.

Niemand kan vir die gesin sê wanneer hulle dierbare moeder ontslaan gaan word nie en bekommer haar dogter haarself oor hoe sy vir haar ma gaan vertel dat sy nie terug gaan na haar tuiste van die afgelope 36 jaar nie.

“My ma is selfstandig en wil dinge op haar eie manier doen, maar ons gaan haar nie toelaat om terug te gaan huis toe nie. Daar is te veel goed wat kan gebeur en dis beter as sy naby ons is. Sy gaan die nuus nie goed vat nie. Daar is tog so baie herinneringe wat gepaard gaan met alles wat in daardie huis was. Daar is meubels in die huis wat ek ken al van kindsbeen af, nou is alles vernietig deur die brand,” het sy hartseer gesê.

Tannie Corrie het laas week begin moeilik raak met die drup en begin torring en die drup heeltyd uitgetrek, maar die gemeenskap van eMalahleni het dadelik ’n uitweg gehad en haar gaan verras met ’n vroetel-kombersie.

“Ek sê uit my hart uit dankie vir Anneke Basson wat dadelik weggespring het en vir my ma ’n vroetel-kombersie gemaak het en persoonlik af gaan laai het by haar in die hospitaal. Hierdie mense in dié gemeenskap is kosbaar,” het sy ten slotte gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button