Bietjie moed vir moedelose boere
Daar is steeds geen plaasvervanger vir ’n funksionele boerevereniging en ’n provinsiale unie nie
Die president van Agri SA het bietjie met ons boere kom gesels en hul verseker dat hulle steeds ’n toekoms in ons land het.
Mnr. Dan Kriek het vertel dat hy betrokke is by boere regoor die land en die gemoed soms laag loop by almal, maar tydens sy besoek aan eMalahleni en omliggende areas se boere by Kleinwater op Dinsdag 23 Julie het hy gesê dat die grootste kopseer, die wysiging van die grondwet, nog nie in die parlement goedgekeur is nie.
Hy het sy toespraak baseer op die tema: ‘organiseer jouself en werk jou eie heil uit’.
“Daar is steeds geen plaasvervanger vir ’n funksionele boerevereniging en ’n provinsiale unie nie,” het Kriek gesê. “Maar dit moet werk. Jy moet ’n voorsitter, sekretaresse, bestuurder en die regte mense aan boord hê.”
Hy het bygevoeg dat tydens sy besoeke al die boere hul eie maatreëls in plek het om hul plase te beveilig.
“Daar is sekuriteitswagte. Daar is mense wat daaglikse patrollies ry,” het hy bygelas. Hy het ook gesê dat Agri SA hul bes doen om boere by te staan maar hy ook steeds glo dat daar oplossings in die toekoms vir boere se probleme is. “Die president maak die regte aanstellings in kritiese instellings. Ons minister van landbou glo ek ook verstaan die uitdagings van landbou. Die pyle begin in die regte rigting wys.”
Dan het bygevoeg dat stedelike besettings besig is om te gebeur en dit is ’n bewys van die groter nood na stedelike grond en behuising.
“Dit is nie te sê dat grondbesetting nie ’n probleem gaan wees nie. Ons kry dit oral en ons moet maar daarmee ‘deal’ op die regte manier. Maar sover as onteiening sonder vergoeding is die grondwet nog nie gewysig nie. Ons gaan ook kyk na die bewoording van hoe Artikel 25 verander moet word, en dan moet hulle natuurlik ’n 66.6% stemme verwerf wat bogenoemde artikel dan wettiglik kan verander. Ons moet georganiseerd bly. Ons moet aanhou doen wat ons doen en ons mede boere se hande vat en een wees. Daar is baie onsekerheid rondom Artikel 25 en die verandering daarvan, maar ons werk saam om ons boere by te staan. Ons verleen bystand tans in ’n hofsaak wat aan die gang is in KwaZulu-Natal sover ons moontlik kan,” het Dan ook gesê.
Hy het bygelas dat daar tans 84 organisasies is in Agri SA en daaronder nog boereverenigings.
Hy het die boere aangeraai om aan boereverenigings te behoort. Hy het ook bygesê dat hy in Tweeling woon en die mense wat daar hande vat, inspring en help, is iets besonders.
Hy het die boere bedank vir hul bydrae tot die ekonomie ten spyte van die groot onsekerheid waarin die land is en hul aangemoedig om strukture in hul gemeenskap te ondersteun.
Hy het gesê dat daar talle groot maatskappye aan boord is en wat die boere ondersteun.
“Ons het so groot invloed op die ekonomie van die land en ook op beleggers. Wat ek wel kan verseker is dat niemand jou grond mag vat nie. Niemand het daardie tipe mag nie,” het Dan bygevoeg. “Maar, kyk na julle plase, hou aan waarmee julle besig is en kyk na jul plaaswerkers. Bemagtig hulle en mekaar. Ondersteun mekaar en raak betrokke in jul gemeenskappe. Help waar julle kan.”
“Die aanspreek van probleme, vanaf potensiële gevare in die beplande onteieningswet, landelike veiligheid, besoedeling, onwettige mynbouaktiwiteite en gesonde arbeidspraktyk – trouens die aanspreek van elke probleem op die platteland, kan beter tot voordeel van die boeregemeenskap en die hele ekonomie gedoen word deur hande vat en samewerking,” het Gert Smith, Noordelike Hoëveld verteenwoordiger van Agri SA ook ten slotte gesê.
