Local newsNews

Irene 40 jaar by Vroue Landbou-unie

Tans is Irene die tesouriere van Azaria-tak en sy het vertel dat dit steeds lekker is om al die kursusse by te woon en om ook raad te deel met die nuwe lede

“Ek het besluit daar is meer in die lewe as kinders grootmaak en doeke ruil,” het Irene Keet spottend gesê.

Sy vier vanjaar haar 40ste jaar by die Vroue Landbou-unie en sê sy sien uit na nog baie jare saam met die dames.

Sy is op Donderdag 1 Augustus by die Azaria-tak vereer en ontvang volgende week haar toekenning by die jaarlikse kongres te Hazyview.

“Ek was vir 38 van die 40 jaar op die bestuur en was streekvoorsitster en ook op die uitvoerende bestuur van Mpumalanga. Hierdie is slegs ’n ses jaar termyn om nuwe bloed bietjie ’n kans te gee. Die VLU het vir my soveel ander geleenthede oopgemaak, ek is nou op die uitvoerende bestuur van (SAVU) Suid-Afrikaanse Verbruikersunie. Die VLU is geaffilieer met SAVU.”

Tans is Irene die tesouriere van Azaria-tak en sy het vertel dat dit steeds lekker is om al die kursusse by te woon en om ook raad te deel met die nuwe lede.

“Die VLU verbreed jou lewenskennis so baie en Bokkie Badenhorst het destyds gesê: ‘die VLU is die universiteit van die lewe’. En dit is werklik so. Jy smee soveel vriendskappe, sien soveel plekke wat jy as indiwidu nooit sou sien nie en dit is ongelooflik lekker. Anna Boshoff het my inspireer om ’n vrou soos sy te wees. Sy het altyd die kongresse in Pretoria aangebied en sy het soveel lus vir die lewe gehad. Sy was ’n op en wakker presidente en ek het gesê ek streef om soveel lewe te hê,” het Irene verder gesê. “Ek hou van stiptelikheid, die dissipline by die VLU en die orde in vergaderings.”

Sy het vertel dat sy soveel hoogtepunte die afgelope 40 jaar gehad het, dat dit moeilik is om alles in een oomblik op te som en saam te vat.

“Ek het net altyd gevoel dat daar te min kuiertyd is tydens vergaderings. So toe besluit ons om een damesnaweek per jaar te hou, waar die dames mekaar dan baie goed leer ken. Jy moet self ’n VLU kom ondervind. Daar is van die grapjasse tot die stiller introverte, maar tog is die kringetjie voltooi,” het Irene gesê.

Sy het vertel dat sy voor haar troue ’n onderwyseres was, maar die VLU het saam haar huishouding begin.

“Die VLU is die ‘afrondingskool’ en na 40 jaar dink ek werklik ek het iets van alles geleer. Ek kan wel nie alles doen nie. Ek is vreeslik lief vir mooi skilderye, maar ek kan self nie goed skilder nie. Jy leer bak, brei, hekel en soveel meer en jy kan altyd bevredig word by die VLU.”

Irene het bygelas dat sy reeds 47 jaar in eMalahleni woon en sy was eers lid van die Witbank-tak, tot dié tak groot geword en sy en Debbie du Plessis besluit het om Azaria te stig.

“Daar is oggendtakke en middagtakke, ek verkies die oggendtakke nog al die jare, maar as jy werk, is daar ’n aandtak vir jou,” het Irene gesê.

Sy was ook streekvoorsitster van Witbank-tak en sy het vertel dat die VLU baie reëls het.

Sy het klem gelê daarop dat dit nie ’n vriendskapsklub is nie, maar dat daar wel vriendskappe gekweek word.

Irene het ook vertel dat eMalahleni en Middelburg een was, tot hulle so bietjie minder as 20 jaar gelede Carpè Diem Streek gestig het vir eMalahleni.

“Ons gaan nou ’n deegkursus doen, waar jy leer van brooddeeg, suurdeeg en skilferkorsdeeg byvoorbeeld en die fynere kunsies van die gebak. Ons kry professionele mense vir ons praatjies en hou ’n mini-skou so drie keer per jaar. Daar word ons artikels beoordeel en soos jy nader aan die provinsiale beoordeling beweeg, word jou artikels dan strenger beoordeel. Jy moet baie goed wees om hier uit te kom,” het Irene gesê.

“Ons het ’n polisiedame gehad wat die trauma van verkragting met ons kom deel het en jy leer so baie lewenslesse. Dit is baie moeilik om die VLU op te som, maar ek voel dat indien jy nie lief is vir mense nie en jy nie ’n huisvrou is nie, jy nie sommer aanklank gaan vind by die VLU nie. Jy pas dit wat jy leer toe in jou huis en dit is kos vir jou siel. Jy inkorporeer ondervinding in die huis, hetsy dit modepraatjies of binnenshuise versiering is.”

Hulle hou ook baie uitreikprojekte, maar die VLU is nie ’n welsynsorganisasie nie.

“Ons is maar vrou. Ons sien ’n behoefte en help waar ons kan. Ons gaan binnekort bietjie die oumense van Edenpark bederf met hul hare, naelversorging en hulle net bietjie spesiaal laat voel.”

Sy het ook bygevoeg dat alhoewel die VLU afkomstig was van boervroue wat hierdie vergaderings bygewoon het, sy die enigste een in die streek is wie se man ’n boer is.

“Jou man hoef nie te boer vir jou om aan die VLU te behoort nie. Dis net waar die naam vandaan kom, maar almal ken ons al so.”

Irene het gesê dat haar lewensmotto is: ‘As iemand nie van jou hou nie, ignoreer hom. Daar is baie ander mense’.

Sy het haar 40 jaar by die VLU as ’n lewensles, wonderlike ondervinding en iets besonders opgesom en geglimlag oor elke staaltjie en storie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button