Die probleme van water, krag en vullisverwydering raak nie beter nie, maar daar is ’n nuwe stank in die Steenkoolstad wat nie net op een spesifieke area gemik is nie.
Die afgelope paar jare sit die inwoners van eMalahleni met hul hande in hul hare van moedeloosheid oor die dienslewering in die stad – waarvan daar nie baie is om te sê nie.
WITBANK NUUS lewer al vir ’n geruime tyd berig oor die probleme waarmee die stad worstel, maar tot dusver word niks beter nie.
Op 26 November het die hoeveelste inwoner briesend gekla oor riool wat vrylik deur die stad loop.
“Hierdie is al vir oor ’n jaar ’n probleem en kontak jy die munisipaliteit sê hulle vir jou dat hulle die werkers in kennis gestel het om die probleem te ondersoek. Ja vir ’n jaar lank is dit die terugvoering wat ons inwoners kry of ons word net blatant geïgnoreer,” het mnr. Benjamin Minnaar vertel.
In ’n ander klagte het mnr. Diekie Hattingh vertel dat, “die riool vanaf Jackaroopark se ingang af na die Ou Middelburgpad se plotte loop en dié loop dan reg in die Olifantsrivier in al die pad in Loskopdam in.”
Daar stroom daagliks klagtes van dieselfde soort in by die WITBANK NUUS en is nie net van een area nie, maar verskeie areas.
“Die groot probleem is die verstopte dreine wat dan opstoot en uitloop. Ons as inwoners kan ook net soveel doen en as dit my eie persoonlike drein is, sal ek die probleem self uitsorteer, maar ongelukkig is dit die meeste van die tyd van die munisipale dreine waar die probleem lê,” het Minnaar bygevoeg.
Die inwoners meen, “wanneer gaan dit beter gaan in die eens goeie ou Witbank? Wanneer gaan ons weer iets hê om oor trots te wees want al wat ons tot dusver kry is waterlose dae, donker nagte en stank vir dank.”
Die munisipale woordvoerder, Lebo Mofokeng het ongelukkig nie op die klagtes gereageer voor druktyd nie.
