60 jaar van onvoorwaardelike liefde
Die 60ste huweliksherdenking staan bekend as die diamant-jaar en het Johan vir Rita ’n prag diamantring as geskenk gegee vir die mylpaal van oneindige en onvoorwaardelike liefde.
Net eens in ʼn leeftyd kom die liefde weergaloos en in dié geval blom die liefde tussen Rita en Johan van Rensburg al vir 60 jaar.
Dis soos ’n sprokiesverhaal wat in 1960 hier in ons midde afspeel soos die twee hulle liefdesverhaal vertel.
“Ons het mekaar in die hospitaal ontmoet en glo dit of nie, met die eerste oogopslag het ek geweet dat die Here hierdie man vir my gemaak en gestuur het,” het die fyn en saggeaarde Rita vertel.
Dit het net nege maande geneem voor die twee hul beloftes afgelê het op 9 Januarie 1960 in die Trappies Kerk.
“Die jaar is dit ’n volle 60 jaar wat ek saam my lewensmaat stap en as ek so terugdink, voel dit soos gister en elke dag word ek wakker en is net liewer vir Johan,” het Rita verlief gesê.
Die egpaar het twee seuns saam, vyf kleinkinders en twee agterkleinkinders, alhoewel Rita baie graag ’n dogtertjie wou hê, meen sy dat haar wense die dag waar geword het toe haar twee seuns hul pragtige vrouens getrou het.
Terwyl Rita besig is om ’n leeftyd van herinneringe en stories oor te vertel, staar Johan met soveel deernis en liefde na sy vrou en beaam alles wat sy sê.
“Ons het oor die jare bymekaar gestaan deur dik en dun, gesondheid en siekte en alles gepaard met die belofte wat ons afgelê het. Ons het ook van die begin van ons huwelik God eerste in alles geplaas, ons is net gemaak vir mekaar, ons belangstellings, ons uitkyk op die lewe en dan ook ons liefde vir kamp.”
Volgens die egpaar is daar net drie bestanddele vir ’n wenresep as dit kom by ’n lang en gelukkige huwelik.
“Daar moet altyd respek wedersyds wees, vertroue en kommunikasie, want sonder daardie drie goed leef ’n mens verby mekaar en dis waar rusies ontstaan. Maar ek is geseën met ’n geduldige man, ’n man wat my verstaan. Weet jy, ons baklei nie, ons praat oor probleme en as die een opgewonde raak, bly die ander een stil. Want een mens kan nie met homself baklei nie,” het sy gesê.
Johan sit en luister aandagtig na hoe sy liefste vrou hul liefdesverhaal vertel en sê ewe skielik, uit die bloute uit, “ek het werklik ’n pragtige vrou getrou, ’n engel… Wat kan ek sê? Ek het smaak.”
Die 60ste huweliksherdenking staan bekend as die diamant-jaar en het Johan vir Rita ’n prag diamantring as geskenk gegee vir die mylpaal van oneindige en onvoorwaardelike liefde.
Die tweetjies sit en koer van die liefde waar Rita spoggerig na haar ring op haar fyn handjie kyk en sê, “oe is dit nie dié mooiste ring wat jy al gesien het nie?”
