Video: Die rots van ‘Klippies’ sê koebaai
Die jare vol herinneringe en lesse sal verewig by mnr. Poon bly, maar het hy besluit dat hy die jaar reg gaan maak vir aftrede
Mnr. Poon Grobler is al vir amper 23 jaar die steunpilaar en rots vir Laerskool Klipfontein en is die definisie van hierdie skool se leuse: Volhard en oorwin.
Alhoewel hy al in 1988 by Klippies as ’n onderwyser begin het, het hy in 1997 as ondernemende hoof die leisels oorgeneem by Calle Zimmerman en is as hoof van dié laerskool aangestel in 1999.
Die jare vol herinneringe en lesse sal verewig by mnr. Poon bly, maar het hy besluit dat hy die jaar reg gaan maak vir aftrede.
“Ek wou as kind altyd in die landboubedryf gegaan het, maar die dag toe ons met die aanlegtoetse begin, het my hoof reguit na my toe gestap en gesê ‘die mannetjie moet onderwys swot’. Ek het toe ’n onderwyser geword en begin skool gee in Bethal en hier sit ek vandag,” het hy vertel.
Die merkwaardige en bymekaar man se toewyding aan Klipfontein spreek boekdele soos hy aan WITBANK NUUS al sy jare se ondervinding deel.
Daar is nie net derduisende kinders deur dié mnr. Grobler se hande grootgemaak en waardes geleer nie, maar ook onderwysers wat by hom geleer het om nooit tou op te gooi nie en ook om die beste ‘jy’ te wees.
“My raad aan alle onderwysers, jonk en oud is dat jy moet aanhou werk, werk en werk. Doen alles na die beste van jou vermoëns en pak alle uitdagings met passie aan,” het hy die wenresep van sukses gedeel.
Die skool se visie waarna hul streef is alles wat mnr. Poon al die jare uitbeeld as mens en dit is respek, verantwoordelikheid, eerlikheid, omgee en trots.
“Daar is ’n gesegde van Barbara J Doll wat lei, ‘God het ’n plan vir elke seisoen van ons lewe, dus moet ons vertrou op Hom. Hy weet wat die regte tyd is vir die verandering van ons lewensseisoene en leer ons om in elke een te floreer,” het hy gedeel.
Wat voorlê vir hierdie legende van Laerskool Klipfontein is nog so bietjie vaag vir hom, maar word net met voorspoed van al die harte wat hy oor die jare geraak het, toegewens.
