Video: Dagsorg vra vir hulp na nόg ’n inbraak
Die dagsorg se grootste verlies tot dusver is die lugreëlaars se buite-eenhede wat gesteel is
SAVF Wonderland Dagsorg sit al met hul hande in hul hare na die soveelste inbraak.
Op 22 Januarie is donasie-boksies en ook bankkussings deur ’n verdagte gesteel wat met iets wat lyk soos ’n lang pyp, die goedere kom nader trek.
“Vanaf verlede jaar is daar gereeld in die aande ingebreek en is ons op verskeie maniere skade berokken. Die kostes vir herstelwerk aan waterpype, krane, konneksies bo op die dakke en vensters is baie hoog,” het me. Lana Pienaar, bestuurder van die dagsorg gesê.
Alles aan die buitekant van die skool wat gesteel kan word, is al gesteel en vensters word ook gereeld gesteel.
“Selfs die kleinste venstertjies word gebreek en alles wat die hand kan bykom, van die kleuterkombersies, toiletpapier tot swartsakke, word gevat,” het Pienaar moedeloos gesê.
Die dagsorg se grootste verlies tot dusver is die lugreëlaars se buite-eenhede wat gesteel is.
Daardie kostes alleen beloop R90 000.
“Die versekering het dit wel betaal, maar ons het dit op hierdie stadium nog nie vervang nie, aangesien dit nog ekstra kostes gaan wees om die buite eenhede te beveilig.”
Nog ’n groot terugslag vir die skool was die waterpomp wat gesteel is.
Die waterpomp was agt jaar lank agter ’n veiligheidshek toegesluit.
Die bybetaling op die waterpomp is R1 000 en die pomp kos R2 800.
“Dis nie eers die moeite werd om die pomp van die versekering terug te eis nie, dit sal ons premie net meer verhoog.”
Die dagsorg het wel ’n alarmstelsel in die gebou self, maar die probleem is buite waar beligting baie swak is.
Churchillstraat waar die skool geleë is se straatligte werk nie eers nie.
’n Nagwag kos tussen R7 000 en R10 000 per maand en die kwotasies wat verkry is vir sensors is baie duur.
Na beraming kort die dagsorg R100 000 om alles te vervang en te herstel.
Hulle doen ’n beroep op die gemeenskap in die hoop dat ’n barmhartige Samaritaan dalk aan boord sal kom en help.
As jy die dagsorg uit hul verknorsing kan help, skakel Pienaar en haar span by 013 656 2402.
