Die omgee-harte van Gemeenskapshart
Elke gasvrou wat aan elke tafel teenwoordig was, het verantwoordelikheid geneem vir haar tafel van gaste
Omstandighede is iets wat heeltemal buite ons beheer is, maar so dikwels opdaag.
Die omgeeharte het hul kwartaallikse Gemeenskapshart-projek gehou op Saterdag 8 Februarie.
Hier het ongeveer 70 dames om tafels gesit, en hul harte gedeel.
Heerlike koffie en kolwyntjies is gedeel, smullekker kerrie en rys is saam geëet, maar meer nog; daar is voedsel vir die siel gebied.
Die kinders was heerlik vermaak en Solidariteit Helpende Hand Streeksorganiseerder, Assistent Streeksorganiseerder en lede van die Helpende Hand Witbanktak, het hierdie ongelooflike oggend bygewoon.
Gerrie Jordaan het die oggend geopen en soos gewoonlik almal laat glimlag, en introspeksie van die hart vir Februarie, die maand van liefde gebring vir elkeen.

Rene Prinsloo, (stigterslid van Gemeenskapshart) het ‘n boodskap van bemoediging oorgedra en die dames het die allermooiste armbande gemaak, met geel, swart, rooi, wit, groen en blou, elke kleur simbolies aan ‘n emosie.
Elke gasvrou wat aan elke tafel teenwoordig was, het verantwoordelikheid geneem vir haar tafel van gaste.
Helpende Hand is dankbaar om deel uit te maak van hierdie wonderlike invloed in die gemeenskap, dankbaar vir hoe hulle ‘n vrou, die hart van die huis, so mooi ophef.
Dankie aan AGS Neo Doxa gemeente, vir die hande vat en jul hart oopmaak vir hierdie wonderlike doel.
Ons is dankbaar dat julle hierdie passie het vir wat julle doen, ook dat julle saam met Helpende Hand verskil wil maak in die drie vlakke – geestelike armoede, fisiese armoede en kulturele armoede.
