Koper van gastehuis toe ’n bedrieër
Die afgelope week is daar ’n saak teen die verdagte geopen en ondersoek die polisie nou ’n saak van bedrog teen hom.

’n Gastehuis eienaar van eMalahleni, mnr. André Steyn het ’n verlies van duisende rande gely nadat ’n bedrieër onlangs sy gastehuis geteiken het as ’n voornemende koper.
“Ek kan met geen twyfel sê dat hierdie man dit met talle gastehuise in ons stad gedoen het en kom net elke keer weg,” het Steyn aan WITBANK NUUS gesê.
Die afgelope week is daar ’n saak teen die verdagte geopen en ondersoek die polisie nou ’n saak van bedrog teen hom.
“Sy modus operandi is soos volg: Hy maak asof hy al die geld in die wêreld het, kom kyk na jou gastehuis saam ’n agent en laat weet jou dat hy die gastehuis vir ’n merkwaardige prys wil koop by die eienaar. Die agent trek self ’n kontrak op en dan kom bly hy in sy ‘nuutgekoopte huis’ tot die eiendom op sy naam registreer. Dit is dan wanneer hy allerhande stories het en kop uitrek,” het Steyn bygelas.
Volgens die eienaar van Egyptian Sands het *‘Mister T’, vandat hy die dag daar ingetrek het vir hom gesê hoe goed gedoen word.
“Eers het hy daarop aangedring om al my permanente mense te laat gaan. Toe mag daar nie meer gaste inklok nie en so het alles afgespeel tot hy my leeg getap het. Hy het deur die hele inperkingstyd in my gastehuis gebly en die koste het duisende rande beloop om hom te onderhou. My kinders het hul voet neergesit en die man van my perseel af weggejaag. Sy voertuig is steeds by my en hy moet hom kom kry voor 21 dae anders is dit my reg om die voertuig te verkoop om my skade wat ek met hom gely het, af te betaal. So kan dit nie aangaan nie. Die volgende teiken is dalk net ’n goeie mens wat hy ook sal uitroei,” het Steyn ten slotte gesê.
As jy ’n slagoffer van dié man was en jou saak by die polisie aangemeld het, stuur gerus ’n epos aan chrisune@witbanknews.co.za
*Skuilnaam is gebruik vir die verdagte omdat hy nog nie amptelik aangekla is nie.
