Hallo, hoe gaan dit met jou?
Dit was een van daardie dae wat ek ’n oomblik kon afknyp en met die mense kon gesels

Dit is die klein dingetjies in die lewe wat die meeste tel.
Ek en die een kuiken het Saterdag by ’n plaaslike vlooimark ingeloer en ons vergaap aan die handgemaakte kunswerke.
Dit was een van daardie dae wat ek ’n oomblik kon afknyp en met die mense kon gesels.
Ons het by elke stalletjie gestop en net lekker gesels.
Op ons roete het ek ’n boekwurm met die naam Steven ontmoet wat al 2 000 boeke gelees het, tannie Marie wat die mooiste sementbakke vir plante maak en oom Cornelius met wie se hande niks verkeerd staan as dit by hout kom nie.
Oom Piet het trots met sy handgemaakte vliegtuigies gepronk en tannie Carol het ons genooi om by haar koswaentjie te kom inloer.
Ek het tot ’n kwartel-eier geproe wat tannie Sandra self ingelê het.
Die kuiken het sy gesig so getrek en sommer aangestap net om van die kwartel-eier proesessie weg te kom.
Ek is selfs bederf met ’n pragtige lugplant wat mooi op ’n houtplankie vasgemaak en verfraai is.
Met die wegstap het my kuiken se wysheid my weer tot stilstand gebring toe hy na die lugplant kunswerk staan en kyk.
“Net ’n bietjie stilstaan en gesels beteken meer as al die geld in die wêreld. As ons net ’n tydjie afknyp en na ander begin luister, gee ons iets wat geld nie kan koop nie,” het hy gesê.
Hy het weer die lugplant omgedraai en gesê, “Hierdie kunswerk is met soveel liefde gemaak, dis onskatbaar …”
Dis toe die besef weer insink, geld kan nie geluk, gesondheid of liefde koop nie.
Met Covid-19 wat so meedoënloos aan ons deure hamer moet ons meer tyd spandeer om net te stop en te sê ‘hallo, hoe gaan dit met jou?’
Deel jou nuuswenke met ons via:
Telefoon: 013 656 2490
WhatsApp: 060 866 8682
Epos: wtbnews@mweb.co.za
Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms:
