Vier aksiekrieketsterre gereed vir wêreldbeker
eMalaheni staan bankvas agter die vier krieketsterre was soveel talent, passie en drome het.
eMalahleni kan met trots spog met vier jong krieketspelers wat gekies is om Suid-Afrika by die Junior Wêreldbeker vir binnenshuise krieket te verteenwoordig.
Drie van die spelers, Dané Myburgh (12), Zander Crafford (13) en Jay van der Westhuizen (13), is van Laerskool Taalfees, terwyl Troydon Smith (13) van Cambridge Academy afkomstig is.
Die toernooi vind van 26 September tot 3 Oktober by die Atterbury Action Sport Arena in Pretoria plaas.
Dané is die jongste speler wat nog ooit gekies is om SA in dié sport te verteenwoordig.
Moet egter nie dat haar ouderdom jou mislei nie. Hoewel sy tans vir die o. 12-span speel, is sy gekies vir die o. 15A-dogterspan wat Suid-Afrika gaan verteenwoordig.
“Dit is die beste sport in my lewe en dit hou my besig,” het ’n opgewonde Dané gesê. “Ek kan nie wag om hulle boude te skop nie, my spanmaats nog beter te leer ken en dinge saam met hulle te doen nie.”
Dié jong krieketspeler het reeds haar oë op die Protea-span gerig. Protea-kaptein Laura Wolvaardt kan haar hemp maar vastig was en stryk, want die bekkige Dané het klaar gesê sy wil dié hemp hê.
Dané is in 2024 as Laerskool Taalfees se dogterkrieketspeler van die jaar Jay het reeds op ’n jong ouderdom sy eerste IPT-toernooi gespeel toe hy vir die o. 9-span uitgedraf het.
“Dit is ’n lekker sport wat jou adrenalien opjaag omdat dit so vinnige spel is,” het Jay gesê.
Sy gunstelingspeler is Vaibhav Sooryavanshi, wat volgens hom op so ’n jong ouderdom hard werk en reeds groot sukses behaal.
Troydon het in 2022 met krieket begin en beskryf dit as ’n sport waarin jy vinnig op jou voete moet dink.
Hy sien veral daarna uit om tydens die wêreldbeker nuwe spelers te ontmoet en meer oor ander lande se tradisies te leer.
Sy gunsteling speler is Luandré Pretorius.
Zander was sewe jaar oud toe hy in 2020 binnenshuise krieket begin speel het.
“Aksiekrieket se pas is die heeltyd vinnig. Elke speler moet kan kolf, boul en veldwerk doen. Dit hou my fiks,” het hy vertel.
Hoewel hy verskeie kriekethelde het, sê Zander is Aiden Markram tans ’n groot inspirasie.
“My groot droom is om eendag in verskeie formate van krieket Suid-Afrika te kan verteenwoordig en ek sal graag eendag in die IPL wil speel,” het Zander gesê.
Of dit nou drome van die IPL of ’n Protea-hemp is, wag daar vir dié vier jong nasionale spelers ’n wêreldverhoog waarop hulle hul staal kan wys.
Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,
Volg ons op website, Facebook, X, Instagram or TikTok
Epos: info@witbanknews.co.za