Local newsNews

Vriendelikheid kos niks, barmhartige Samaritaan help om inkopies te betaal

Sy het tot op hede nog nie die man opgespoor nie en het met ’n inskrywing op sosiale media die man bedank.

Dalk het dit ook al met jou gebeur…. Jy staan in die ry om jou inkopies te betaal en as jy moet betaal is jou bankdienste af en net daar skop paniek in.

Dit is presies wat met me. Christine Oberholzer op 4 Julie gebeur het, maar te danke aan ’n barmhartige Samaritaan het die uitstappie ’n mooi einde gehad.

“Uit oudergewoonte het ek en my twee kinders gou by die winkel gestop om ’n paar goedjies te koop vir die huis. Ons het in die ry gestaan en toe dit my beurt is vir betaling is my banktoep (app) van lyn af. Dit was asof alles verkeerd gegaan het. In daardie oomblik hardloop my seuntjie kar toe om iets te gaan haal, want hy wou mamma ‘help’ – min wetend dat ek wel kontant in my beursie het,” het Christine vertel.

In die chaos en ellelange tou van mense wat nog gehelp moet word vra Christine verskoning vir die vertraging.

“Terwyl ek die kontant regkry, kom ’n man na vore en bied aan om vir die inkopies te betaal. Ek het hom verseker dat ek wel kan betaal, maar hy het voet by stuk gehou en aangedring om te betaal. Hy het die kontant wat ek in my hand gehad teruggegee en gesê hy wil my met dié geleentheid ‘bless’,” het sy verder vertel.

Christine is uit die winkel saam haar twee kleintjies, terwyl trane van dankbaarheid oor haar wange rol.

“Terwyl ek nog alles in my kop uitpluis tussen die trane deur, kom my seuntjie en sê ek moet wag, want hy wil bitter graag net vir die oom ’n drukkie gee omdat hy mamma groot gehelp het vandag. Hy kon egter nie die man vind nie,” het sy gesê.

Christine vertel dat haar seuntjie vir almal wyd en syd vertel van dié engel oom.

“Dis ’n onbekende gevoel, ek het nie geweet moet ek huil of moet ek lag of wat ek moes doen nie. Ek het so ‘overwhelmed’ gevoel omdat dit die eerste keer was wat iemand so iets vir my gedoen het,” het sy vertel.

Sy het tot op hede nog nie die man opgespoor nie en het met ’n inskrywing op sosiale media die man bedank.

“Ek het nie woorde om te beskryf hoe geseënd ek gevoel het daardie aand nie, ek het gehuil tot by die huis. Ons woon in Blancheville, so dis ’n entjie van Reynorif se Pick n Pay, maar dit was asof ek op wolke gevlieg het huis toe. Hy het my geloof weer herstel daardie aand en ek sê weereens dankie,” het sy dankbaar ten slotte gesê.


Deel jou nuusbrokkies met ons

Telefoon: 013 656 2490 WhatsApp: 060 866 8682 Epos: info@witbanknews.co.za

Of volg ons op sosiale media platforms

Instagram Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button