‘Gut-feeling’ stop diewe om alles te vat
Die dief het net kans gehad om die sweismasjien te gryp.

Was dit nie vir mnr. Pieter Roodt van Reynorif se ‘gut-feeling’ nie, sou diewe tien teen een met die inhoud van sy hele garage weggekom het.
Roodt het Vrydagaand, 15 Julie deurgeloop onder boosdoeners wat die slot op sy garage deur oopgebreek het.
Hy het vertel dat sy kwaai Boerboel drie weke terug vergiftig is en so aan die begin van die naweek het die diewe sy sweismasjien uit sy garage gesteel.
Hulle sou sekerlik met baie meer weggekom het, as die alarm nie afgegaan het nie.
“Vir die eerste keer in 27 jaar het ek die garage en buitegeboue se alarm vroeër geaktiveer. Gewoonlik aktiveer ek dit eers so om en by 22:00 voor ek en Riana inkruip. Maar Vrydagaand het ek die alarm so 19:00 aangesit,” het Roodt vertel.
“Ek en Riana het vroeër ons ‘jammies’ aangetrek en het net voor die televisie gaan sit om te ontspan toe ek skielik die gier kry om die alarm aan te sit. Ons het net lekker begin ‘relax’ toe skreeu daardie einste alarm.
Roodt se alarmboksie het gewys dat daar probleme in sone vier is, dis waar sy garage en buitegeboue gekoppel is.
“Ek het die middag nog bietjie sweiswerk gedoen en die sweismasjien en die ander ‘tooltjies’ net so op die vloer in die garage by die deur gelos. Ek het dadelik geweet die boosdoeners is in my garage besig.”
Roodt het gesê dit het hom amper vier minute gevat om al die houtdeure en sekuriteitshekke oop te sluit om by die garage te kom. Gelukkig is sy erf goed belig en hoef hy nie ’n lig loop soek het nie.
Toe hy by die garage kom het hy gesien die dief het die garage se skuifslot afgesaag.
“Dit sou moeilik wees om die slot self stukkend te saag, want hierdie is daardie harde slotte. Maar die garage se roldeur was toe.”
Intussen het me. Roodt die paniekknoppie gedruk en binne minute was die sekuriteitsmaatskappy se mense en ook lede van Zello op die toneel.
Die dief het net kans gehad om die sweismasjien te gryp.
Roodt het gesê ’n ouerige model Hyundai Elantra was in die cul-de-sac in die donkerte geparkeer.
“Toe die manne begin opdaag by die huis het die bestuurder baie stadig verbygery. Ek glo hy wou nie jaag nie omdat dit aandag sou trek.”
Roodt het genoem dat hy slegs drie keer onder diefstal deurgeloop het vandat hulle hul intrek daar geneem het.
“Die inbraak het net na 19:00 in die aand gebeur, nie soos wat ons sal verwag 23:00, 24:00 of selfs 02:00 in die oggend nie. Diewe breek nou sommer vroegaand al in.”
Hy is vies vir die polisie wat glo eers twee ure na die tyd op die toneel aangekom het en geweier het om ’n saak oop te maak.
“Die polisieman het vir my gesê ek moet polisiestasie toe ry om ’n saak oop te maak. Ek is baie suur daaroor, want toe ek uiteindelik Sondag by die polisiestasie uitkom was die polisiebeamptes baie ongeskik en wou weet hoekom die polisie wat daardie aand op die toneel was nie die saak oopgemaak het nie. Hoe sal ek nou weet?”
Sersant David Ratau, plaaslike polisiewoordvoerder het gesê in dié geval moet die klaer ’n afspraak by die stasiekommissaris maak en die saak aangee sodat dit intern ondersoek kan word.
“Dit is die werk van die polisie aan diens om die saak oop te maak as hulle op enige misdaadtoneel kom. As die polisiebeampte op die toneel kom, moet hulle dit assesseer. As die plaaslike kriminele rekord sentrum benodig word vir vingerafdrukke, is dit die polisie op die misdaadtoneel se plig om die radiokamer te verwittig om die eenheid te kry om uit te kom toneel toe,” het Ratau gesê.
Deel jou nuusbrokkies met ons
Telefoon: 013 656 2490 WhatsApp: 060 866 8682 Epos: info@witbanknews.co.za
Of volg ons op sosiale media platforms
Instagram Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking
