Daar is hulp beskikbaar as die lewe te veel word
‘Daar is hulp, sê pastoor Jurgens le Roux.

Selfdood-voorvalle het die stad die afgelope paar weke geskok.
In November is 12 gevalle in eMalahleni aangemeld.
In die mees onlangse geval het ’n jong man op die N4 snelweg voor ’n bewegende trok ingespring.
Die bestuurder van die trok, mnr. Sipho Nkabela het geskok voor hom gestaar en geprewel dat hy nie die ongeluk veroorsaak het nie.
’n Ooggetuie het vertel dat hy gesien het hoe die jong man sy hemp en skoene uittrek en voor die trok ingespring het.
Dié geval is een van talle selfdood-voorvalle wat die afgelope ruk in eMalahleni plaasgevind het.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) pleeg sowat 703 000 mense jaarliks wêreldwyd selfdood.
Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsstoornisgroep (Sadag) het op hul webblad geskryf dat die mite dat mense wat dreig, nie regtig selfdood sal pleeg nie, vals is.
Sowat 75% van diegene wat dreig om selfdood te pleeg, dit doen.
Plaaslik het pastoor Jurgens le Roux hand opgesteek en gesê daar is hulp.
“Ons kan almal saamstem die seer en gebrokenheid van mense in die wêreld is vandag een van die grootste uitdagings van ons tyd. Kyk ons na die realiteit, die werklikhede waarmee mense in ons samelewing te doen het, die druk baie groot is as dit onder andere by finansies en afhanklikheidsprobleme kom,” het pastoor Le Roux gesê.
Hy het gesê daar is altyd hulp beskikbaar.
“Mense wat by gemeentes betrokke is, kan gerus by hul leraars aanklop wat hulle graag sal help.”
Hy het ook genoem dat hy altyd beskikbaar is vir raad en om mense te verwys na beraders wat sal bystaan om te help.
Vir hulp kan pastoor Le Roux gekontak word op 082 856 4608.
Sadag kan ook gekontak word vir telefoniese berading, bystand en verwysingsdienste aan depressielyers en hul naasbestaandes. Gebruik die tolvrye nommer: 0800 567 567 of SMS 31393.
Deel jou nuuswenke met ons via: Telefoon: 013 656 2490 Epos: wtbnews@mweb.co.za Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms: InstagramTwitterWitbank News toepFacebook pageWitbank News Breaking
