LifestyleLocal newsNews

Appel en ’n ei is iets van die verlede

Alles gaan op behalwe salarisse.

Kom ons kyk na realiteit, alles vandag kos ’n arm en ’n been.

Ek het die afgelope paar weke opgelet dat dié uitdrukking baie gebruik word.

Met die nuwe skooljaar uit die wegspringblokke is daar seker baie ouers wat voel hulle het omtrent ’n arm en ’n been betaal vir skoolbenodighede.

’n Tenk petrol kos al meer as ’n arm en ’n been, en dan gesels ons nie eers van munisipale rekeninge nie.

Die uitdrukking is ook onlangs op sosiale media bespreek op een van die groepe waar Afrikaans nog gekoester word.

Party van die taal-fundi’s reken dit is ’n direkte vertaling.

‘Betaal deur jou nek’ is die meer aanvaarbare uitdrukking om te gebruik.

Die gesprek het ’n tiekiedraai geneem na die oorsprong van die uitdrukking.

Daar was gedebatteer dat in die ou dae as skilderye van mense of gesinne geskilder was, het dit ekstra gekos om arms en bene by te verf.

En as ons terugdink aan daardie ou ovaal skilderye teen ons oumas en oupas se mure, het ouma altyd ’n lang rok gedra en net haar skoentjies het uitgesteek.

Oupa kon seker nie haar been ‘bekostig’ nie.

Nog ’n teorie is dat die uitdrukking destyds in Shakespeare se ‘Merchant of Venice’ gebruik is.

Maar volgens die slimkoppe is daar nie literatuurbewyse van die uitdrukking in Shakespeare se tyd nie.

’n Derde teorie is dat die uitdrukking vanuit Amerika gebruik is tydens die tweede wêreldoorlog.

Tydens die oorlog het baie mans hulle arms en bene verloor in skermutselinge. Die uitdrukking het glo vandaar sy oorsprong toe mense gesê het die prys van die oorlog was ’n arm en ’n been.

So sit die Engelsman met sy ‘eish’ wat saggies rinkel in sy whiskeyglas, en sêg so terloops, “As jy nou iets van stapel wil stuur, moet jy terugdink in die ou dae kon jy iets vir ’n appel en ’n ei koop. Die kalf is in die put, want vandag moet jy bereid wees om jou arm of been op te offer.”

Die Engelsman gooi nog ’n bietjie ‘eish’ by, “Ons is omring met myne en kragstasies, ons is die land se steenkool Kanaän, maar die prys van die inwoners van Emmawillielênie se elektrisiteit en water kos ’n arm en ’n been. Al moet ons vir dae lank aaneen ploeter sonder die dienste, moet ons maar hoes en betaal.”

Welkom in die steenkoolstad waar alles ’n arm en ’n been, ’n elmboog en toon, ’n oor en ’n ribbebeentjie kos.

 

 Deel gerus jou nuusbrokkies met ons: Telefoon 013 656 2490 of epos info@witbanknews.co.za

Jy kan ons ook op sosiale media volg InstagramTwitter Witbank News App

 

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button