Tienjarige is tuis op ’n perd se rug
Mialee hou van skilder maar perde en diere oor die algemeen is haar passie.
Mialee van Vollenstee (10) is gemaklik op’n perd se rug, daarvan getuig die talle toekennings wat sy by die National South African Show Jumping toekenningsaand opgeraap het.
Sy het op 4 April tydens dié geleentheid ʼn toekenning ontvang vir die 60cm algehele ponie- en ruiterkategorie in die Mpumalanga streek; sy is ook die enigste ruiter in die provinsie wat ʼn toekenning ontvang het.
Mialee, ʼn graad vier leerder by Laerskool Kragbron, het al op die ouderdom van drie perd begin ry en as sewejarige aan kompetisies begin deelneem.
Sy hou ook van skilder as stokperdjie, maar haar eerste liefde is alles wat perde behels.
Mialee sê ook dat sy oor die algemeen verskriklik lief is vir diere.
Sy neem ook deel in die Sanesa skole-kompetisie met haar ponie, Taylor G, waar hulle aan die skouspring, dressuur en gelykstellingsafdelings deelneem, om net ʼn paar te noem.
Mialee ontvang tans al haar afrigting by die Riverview Stables Equestrian Yard en leef haar liefde vir dié sport daar uit.
Deel jou nuusbrokkies met ons Telefoon: 013 656 2490 Epos: info@witbanknews.co.za of volg ons op sosiale media platforms Instagram Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking
