Local newsNews

Mamma praat oor hartseer na ongeluk waarin haar dogtertjie en verloofde dood is

Tussen die hartseer het Robin du Plessis geglimlag toe haar dogtertjie in Februarie gebore is.

’n Houtkruis versier met ballonne en blomme het stilweg aandag getrek op die N12 vroeër die maand. Die kruis staan in die skaduwee van ’n groter kruis en daarop is twee name ingegraveer, Willem en Shylo.

Die versierde kruise op die N12.

Mamma Robin du Plessis het op 7 April die ballonne en blomme by Shylo se kruis neergesit om haar hemel-verjaarsdag te vier.

Shylo sou vier geword het.

“Hoe is dit reg, hoe is dit regverdig? My poppie, vandag moes jou vierde verjaardag wees, maar jy bly nou vir altyd drie,” het Du Plessis haar seer gedeel.

Op 30 Augustus verlede jaar is Shylo en Du Plessis se verloofde, Willem van der Sandt, in ’n gru-ongeluk op die N12 dood.

Die gesin was op pad terug vanaf Eloff na eMalahleni toe ’n voertuig hulle van agter af gestamp het. Hulle kar het gerol. Shylo, Van der Sandt en Du Plessis se oudste seun, Lorenzo (13) is uit die kar geslinger.

’n Swanger Du Plessis en haar jongste seun, Lehandro (9) was nog in die rollende kar.

Du Plessis het besef Van der Sandt is opslag dood. Shylo is in haar mamma-arms dood.

“My gebede het hol geklink, my woorde het verdrink in die nag, ek het Shylo styf vasgehou tot op die einde.”

Baba Roané Shylo Adrielle is op 23 Februarie gebore.

Ses maande later het Du Plessis weer ’n lyfie vasgehou, haar en Du Plessis se dogtertjie, Roané Shylo Adrielle is op 23 Februarie gebore.

Du Plessis het ’n hartroerende brief op sosiale media geplaas, waarin haar smeekgebede tussen die trane ingevleg was.

Mamma se smeekbrief:

“Ek kom vra vandag met ’n nederige hart, of iemand moontlik dalk vir my werk het, sodat ek vir my baba kan sorg. My man was die broodwinner en het ons nog nie so ver gekom, dat daar iets uitbetaal, as een van ons moes sterf nie. Ek kort baie dringend werk, want ek weet nie meer wat die dag van môre vir ons inhou of waar ons gaan opeindig nie. En soos almal ook maar weet, ’n baba is nie goedkoop nie en die lewe is onmenslik duur. En as ek nie nou opstaan nie, gaan ek nie uit die swart gat kom waarin ek is nie, en ek moet vir my kinders se onthalwe. Ek kan nie bly lê en myself jammer kry nie… ek moet opstaan, en vir myself en my kinders ’n lewe begin maak. Dit is bitterlik seer om te weet elke volgende môre is ’n nuwe dag, maar sonder my verloofde en dogtertjie, dis elke dag so bitterlik swart en sooo moeilik – fisies, finansieel en emosioneel. Die afgelope sewe maande was baie moeilik en met al die stres by, raak niks makliker nie. Maar ek moet my kop optel ter wille van my seuntjie en baba-dogtertjie. So ek wil uit my hart uit vra, as enige iemand bereid is om my ’n kans te gee, en dalk vir my ’n werkie het, sodat ek vir my kindertjies kan sorg, sal ek dit so bitterlik waardeer. Ek het ongelukkig nie matriek nie, my verloofde sou my help sodat ek dit die jaar kon doen. Ek ken redelik admin, en het al baie ‘reception’ werk gedoen. Ek het ook my verloofde gehelp in sy eie besigheid met al die admin en papierwerk. Ek leer baie vinnig. En ek is nie bang vir werk nie. En is bereid om enige iets te doen, solank ek net kan sorg vir my kinders. Ek is tans woonagtig in Delmas, Mpumalanga. Maar ek is bereid om te verhuis na waar ek werk kan kry. Ek het ’n baba-dogtertjie van ’n maand oud en ’n negejarige seuntjie wat saam my is. Ek is op die stadium net nie finansieel op ’n goeie plek om te kan verhuis by myself nie, maar ek is bereid om dit terug te werk sodat dit van my salaris afgetrek kan word, indien iemand ietsie vir my het. Ek hoop en bid baie hard net vir ’n bietjie lig. Alles is onmenslik baie donker vir my op die huidige stadium. Indien iemand ietsie vir my het, sal julle my asb. inbox, dan sal ek my nommer en CV stuur.
Baie, baie dankie aan almal, ek waardeer dat julle my boodskap lees, baie duisende dankies.

Groete, Robin.

Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, FacebookTwitter,  Instagram of TikTok

Gesels met ons: info@witbanknews.co.za

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button