Huiseienaar raadop met water
’n Inwoner van Jackaroopark is raadop met die water wat haar erf bly instroom en groot skade aanrig.
Almal kla baie vinnig as hulle nie water het nie. Maar wat as jy té veel water kry en dit jou duisende rande kos om die probleem op te los.
Rina du Plessis van Eileenstraat in Jackaroopark is raadop met die water wat sonder end by haar erf instroom.
Daar was eers gedink die brandkraan lek, maar die munisipaliteit het die brandkraan oopgegrawe en die oorsaak is opsygeskuif, want die brandkraan lek nie.
Toe word daar bespiegel dat ’n munisipale pyp in die volgende straat die oorsaak is, maar die area was twee dae sonder water en steeds het die water deurgesypel.

Op ’n stadium is daar gedink die water kom van die myne agter Jackaroopark af, maar dit is suiwer skoon water, nie mynwater nie.
Dit was só erg dat Du Plessis se seun, Willie du Plessis, gedink het dit is hul swembad wat lek, maar selfs nadat hy die swembad uitgehaal het, sypel die water steeds deur.
Die water stroom letterlik onder die grond en vul die gat waar die swembad ’n paar weke terug was en loop oor na Du Plessis se Wendyhuis toe.
Hulle het ’n voor op hul sypaadjie gegrawe en probeer daagliks die water uitpomp wat steeds aanhou deursyfer.
“Ons pomp tot 8 000l skoon water per dag uit die gat uit,” het Du Plessis moedeloos gesê.
Du Plessis het vertel sy het al duidende rande spandeer om die water weg te lei.
“Dit droog net nie op nie. My plaveisel sak, my mure se verf dop af, en oral groei daar mos. Ek weet nie meer watter kant toe nie.”
Du Plessis is baie bekommerd dat haar huis se fondasie gaan sak.
Die munisipaliteit het ook ondersoek ingestel, maar kan nie die oorsaak van die water bepaal nie.
Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
Gesels met ons: info@witbanknews.co.za
