2 ontvoer toe hulle oor ysterpenne by Kendal-afrit ry
Die twee tegnikuste is ongedeerd gevind, maar daar is geen maatstaf om die traumatiese ervaring waardeur hulle is te meet nie.
Twee Middelburgers het gisteraand deel van die misdaadstatistieke geword toe hulle ontvoer is nadat hulle oor ysterpenne gery het.
Die bakkie waarin die twee mans gery het, is beskadig toe dit oor die ysterpenne, wat deur rowers op die N12 tussen Kendal en Ogies geplaas is, gery het.
Martin Lombard, handelaarshoof van BB Truck in Middelburg, vir wie die twee tegnikuste werk, het gesê die mans is rondgery van OTM na OTM waar geld uit hul rekeninge onttrek is.
Hulle is later gevind.
Die noodroep het ingekom toe een van die insleepdienste laat weet het hy is op pad om ‘n bakkie te sleep.
Die bestuurder van die insleepdiens het die bakkie gevind en die ysterpenne opgemerk.
Hy het heeltyd terugvoer gegee en gesê hy het gesien hoe die rowers die veld inhardloop.
Die boodskap het vinnig na die verkillende rolspelers deurgegaan en SAPS en ‘n sekuriteitsmaatskappy het gou by die insleepdiens aangesluit.
Die twee insittendes van die bakkie was egter skoonveld.
SIEN DIE VIDEO HIER:
Frik van Dyk en nog lede van SACCW het kort daarna opgedaag en die soektog na die mans begin.
Jaco Nortman van SACCW het op die middelman geloop en soek terwyl die ander die bosse langs die pad fyngekam het.
Hy het versteurde gras en voetspore gekry en die gevolg tot die twee mans sy flitslig gesien en vanuit die bosse gekom het.
Van Dyk het gesê hulle het tot in die vroeë oggendure na die rowers gesoek, maar kon hulle nie kry nie.
Lombard het almal bedank wat gereageer en hulp verleen het en gesê, “Moenie in die aand ry nie. Indien jy wel moet ry, wees ekstra paraat en laat ander altyd weet waar jy jou bevind.”
Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
Gesels met ons: info@witbanknews.co.za
