Local newsNews

Kom ‘jaag’ om vir Jacques fondse in te samel

Daar word ’n fondsinsameling by Rietkuil Raceway gehou vir die 21-jarige wat verlede jaar baie seergekry het in ’n ongeluk.

’n Jongman se lewe het ingrypend verander na ’n karongeluk verlede jaar.

Jacques Calitz (21) is vandag in ’n rolstoel vasgekluister.

Hy moet van voor af leer loop, sy nek styf kry, hy ontvang arbeidsterapie vir sy hande, hy moet weer leer eet en drink en kry ook weekliks spraakterapie.

Die aand van die ongeluk

Jacques was op pad werk toe vanaf Machadodorp.

Hy het langs ’n Golf gery en die bestuurder het ’n u-draai gemaak. Die Golf het getol en sy voorste wiel gebreek. Die bakkie wat Jacques bestuur het, het oor die Golf ‘geklim’ en het begin rol.

Jacques is met die impak uitgeslinger.

Hy is per helikopter na Milpark Hospitaal toe geneem en daar het dokters het met die ‘stukkende’ mens begin werk.

Jacques se pelvis was gebreek, die regterkant van sy gesig was gebreek en los, sy skouer was uit die been uitgeruk, sy T10 rugwerwel was gebreek en die T4 werwel gekraak.

Hy het erge kopbeserings opgedoen, sy skedel was gekraak, daar was bloed in sy sinusse en bloeding op sy brein.

Jacques is dadelik teater toe gevat waar sy kopwonde toegewerk was. Die volgende dag is daar aan sy gesig en rug gewerk en so deur die loop van nege weke het hy vele operasies ondergaan om die skade te herstel.

Weke se rehabilitasie het gevolg tot Jacques op sy eie kon asemhaal.

Volgens die dokters kan dit tot twee jaar vat voor die volle omvang van sy breinbesering bepaal kan word.

Mamma onthou Jacques as klein woelwatertjie

Met liefde in haar stem het mamma, JoAnne Calitz vertel wat Jacques so spesiaal maak.

“Jacques was ’n besige kind in sy lewe voor die gruwelike ongeluk. Hy was dalk nooit ’n uitblinker in akademie nie, maar vir dit het hy opgemaak in ander opsigte. Jacques was 13 toe hy geboelie was op skool en ons het besluit dat ons kinders niemand se slaansak sal wees nie en so die hulp van een van ons vriende, Henrico Duvenhage van Machadodorp ingeroep.”

Henrico het Krav Maga- sowel as skopboks-afrigting gedoen.

Jacques het op 13-jarige ouderdom aan die sport begin deelneem en drie silwer medaljes in die SA kampioenskappe verwerf vir skopboks.

Groot gif kom in klein botteltjies

JoAnne het vertel Jacques was altyd die kleinste outjie in sy ouderdomsklas.

Dit het hom egter nie gestuit nie en hy het rugby gespeel, aan gewigstoot, hoogspring en verspring deelgeneem.

Hy het veral in gewigstoot uitgeblink.Jacques sou vroeër vanjaar sy kwalifikasie voltooi het in elektries.

“Hy is so geliefd. Orals waar hy gaan het hy soveel mense met respek, vriendelikheid en liefde hanteer,” het JoAnne vertel.

Die terggees was altyd besig om iemand se siel uit te trek. Jacques het geweet wat en waar hy in die lewe wil wees.

In 2022 het hy begin deelneem aan ovaalbane.

Hy het vinnig gevorder en in sy eerste jaar ’n tweede plek met Tintops behaal.

Jacques het baie wedrenne gewen sowel as verloor; hy het die sport so geniet. Hy sou in 2024 in sy eerste nasionale kompetisie en dalk SA’s deelneem, maar as gevolg van die ongeluk het hy nie die kans gekry nie.

Die pad vorentoe

“Jacques se mediese vordering is dalk ’n lang pad, maar Jacques is nog altyd ’n ‘fighter’ in alle aspekte van sy lewe; ek weet God het hierdie oor sy pad gebring.

  • Jacques kort ’n bed wat vorentoe kantel waar hy kan staan vir ’n tydperk om sy spiere in sy bene sterk te maak en oefeninge kan doen.
  • Hy gebruik maandeliks 25 groot blikke Ensure, vier blikke Fresubin en vier blikke Nutrifibre.
  • Hy kort ook baba puree en doeke.
  • Die terapeute kos ongeveer R8 000 tot R12 000 per maand, hang net af van hoeveel sessies Jacques kry.

Om Jacques se familie te help om die finansiële druk te verlig, word daar op 2 Augustus ’n fondsinsameling vir Jacques gehou by Rietkuil Raceway.

Daar gaan in verskillende klasse gery word: Ninjas, junior Stockrods, Ladies Cup, Stockrods, Tintops, 1660’s, Super Saloons, 2.1 Modifieds, 2l Hotrods en Hotrods.

  • Die hekke maak 11:00 oop en die aksie begin om 16:00.
  • Toegang beloop R80 vir volwassenes, R50 vir kinders en R100 vir die pitstops.
  • Die tema vir die dag is ‘heels and wheels’ en vir die eerste keer gaan daar ook ’n rolstoelresies gehou word.

Vir meer inligting, skakel Melanie van Rooyen 079 493 3517.

Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, TwitterInstagram of TikTok

Gesels met ons: info@witbanknews.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button