Dadels in die kollig by VLU vergadering
Ondersteuning en samehorigheid blom by Nokturne dames.
Die VLU Nokturne-tak het ’n besonderse vergadering gehou waar die fokus op die jaar se produk – dadels – was.
Die geleentheid op 3 Julie het nie net leersame gesprekke oor hierdie unieke vrug opgelewer nie, maar het ook ’n gevoel van groei en gemeenskap gebring met die verwelkoming van drie nuwe lede.
Die vergadering het afgeskop met ’n insiggewende bespreking oor dadels, ’n produk wat vanjaar as die produk van die jaar gekroon is deur die VLU.
Lede het verskeie gesondheidsvoordele van dadels bespreek, insluitend: Hul hoë vesel-inhoud wat help met spysvertering, natuurlike suikers vir vinnige energie, rykdom aan belangrike minerale soos magnesium en kalium. Die dames het wel ook na die nadele daarvan gekyk soos die hoë suikerinhoud wat nie vir almal geskik is nie.
Die bespreking het gewys op die VLU se verbintenis tot ingeligte, praktiese lewenstyl keuses wat die gemeenskap se welstand bevorder.
Een van die groot hoogtepunte van die aand was die amptelike verwelkoming van drie nuwe lede tot die Nokturne-tak.
Voorsitter Wilma van Zyl het die mylpaal met entoesiasme gevier en gesê: “Ons verwelkom hulle met ope arms. Elke nuwe lid bring vars energie, idees en ’n liefde vir ons waardes en missie.”
Die toevoeging van nuwe lede simboliseer die VLU se aanhoudende relevansie en aantrekkingskrag in die gemeenskap.
Met die fokus op opvoeding, samehorigheid en vrouekrag het die vergadering weer eens beklemtoon waarom die VLU ’n kragtige pilaar in die gemeenskap bly.
Die Nokturne dames sien uit daarna om verder te leer, hul hande vuil te kry met hulle nuwe projek wat in die pyplyn is, en mekaar te ondersteun.
Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
Gesels met ons: info@witbanknews.co.za




