HTS onnies skop skoene uit en ontspan
Ons kry net té min tyd om vir ons onnies te sê ‘julle is spesiaal’.
Die hoof van HTS, mnr. Paul Liddle, het al diep in harte gekruip met sy kwinkslae en unieke manier om elkeen tuis te laat voel.
Op 6 Augustus het hy met Solidariteit Helpende Hand en Michelle Jordaan gekonkel en die vroue op sy personeel komplimentêr bederf met ’n Vrouedag-ontbyt.
Die dames kon hul oë nie glo toe hulle die lapa instap en die pragtige gedekte tafels sien nie.
Hulle is getrakteer op die mooi musiek van Anja en Henrico, het lekker gesmul aan watertand wafels en het ’n praatjie oor gesonde leefwyse aangehoor.
Annemarie van Heerden, streeksorganiseerder van Solidariteit Helpende Hand – Mpumalanga Streek en KZN Noord Streek het dit so mooi opgesom toe sy gesê het, “Ons kinders is in goeie hande by HTS.”
Paul het in sy spreekbeurt gesê, “Dankie aan elke onderwyser vir die opoffering wat hulle maak.”
Hy het genoem dat hy groot planne vir HTS het, en met so ’n kaliber personeel aan sy sy, gaan die drome vir HTS gou vlerke kry.
Hy het Michelle, van Solidariteit en die beheerliggaam bedank vir die reëlings vir die oggend.
Sien meer foto’s hier:
Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
Gesels met ons: info@witbanknews.co.za
























































