Local newsNews

Wat steek Edenpark weg?

WITBANK NUUS het weer ’n epos aan die aftreeoord se regsverteenwoordiger gestuur om te vra vir die voorvallerekords.

Weke het verloop vandat WITBANK NUUS Edenpark Aftreeoord se bestuur genader het met ’n versoek om hulle voorvallerekords te sien.

Die versoek kom toe foto’s en beweerde klagtes van bejaardes met bedsere in die verswaktesorgafdeling aan die koerant gestuur is.

Na die berig verskyn het, het nog ’n leser, Yolande Kemp Bezuidenhout, haar hart oopgemaak en vertel van die verwyte waarmee sy saamleef nadat haar ma ook met bedsere gelê het, en later dood is.

Daar is ook bewerings gemaak dat van die bejaardes geval het, en daar deur die personeel versuim is om dit aan te meld. Die families in die betrokke gevalle is glo ook nie gekontak na die voorvalle nie.

Dit is die hoofrede hoekom die voorvallerekords aangevra is.

In plaas van die voorvallerekords het die aftreeoordbestuur egter probeer om die media te snoer met ’n prokureursbrief.

WITBANK NUUS het die voorgeskrewe kanale gevolg en die nodige vorms ingevul om die voorvalleboek onder oë te kry.
Ten spyte van volgehoue probeerslae het die aftreeoord nog nie voldoen aan die koerant se versoek nie.
Hulle hou privaatheidswetgewing as rede voor.

Die media het die reg om oor voorvalle in openbare belang verslag te lewer en daarom sal WITBANK NUUS aanhou probeer om die voorvallerekords te sien.

Dit was nie al wat die rooi vlae laat wapper het nie.

Klagtes van kos wat nie op standaard is nie, is ook aangestuur asook beweringe dat bedklokkies nie werk nie.

Die klagtes oor die kos wat aan die bejaardes voorsien word, word in ’n baie ernstige lig gesien omdat dit moontlik nie aan die nodige voedingsvereistes voldoen vir bejaardes nie.

Dr. Cariena Schutte, die aftreeoord se bestuurder het bevestig dat die bejaardes saans slegs ’n koppie sop en broodjie met konfyt op kry.

Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, TwitterInstagram of TikTok

Gesels met ons: info@witbanknews.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button