#Siesman – tel op jou gemors
Feilims Recovery daag jou uit om in jou onmiddellike omgewing skoon te maak en die foto’s op sosiale media te deel met die hutsteken #siesman en #gatvol.
Die grootskaalse skoonmaak van eMalahleni is tans in volle swang, met ’n deeglike poging om die dorp se voorkoms te verbeter.
Die projek wat deur Feilims Recovery gedryf word, is daarop gemik om onooglike plakkers van kragbokse en ander openbare strukture te verwyder, terwyl vullis wat op sypaadjies en in parke rondlê, ywerig op te tel.
Groot sementblokke wat al maande langs die pad lê en bome wat omgeval en net so gelaat is, is ook verwyder en die deksels van die stormwaterdreine word ook teruggesit.
“’n Skoner stad begin met klein treetjies. Maak voor jou erf of besigheid skoon en binne ’n japtrap is ’n hele omgewing sommer aansienlik skoner,” het Tommie Potgieter van Feilims Recovery gesê.
Motoriste wat vanaf die N4 op die OR Tambo-afrit afkom, was altyd begroet met die onooglike afgebrande woonkwatiere van die SAPD.
@
Feilims Recovery het die lelike struktuur afgebreek en die rommel weggery.
“Dit is projekte soos hierdie wat ’n verskil in die gemeenskap maak en daarom kry dit sommer volpunte by ons,” het polisiewoordvoerder kaptein Eddie Hall gesê.
Inwoners en besighede word aangemoedig om ook deel van die #siesman projek te word.
Vir meer inligting kontak Tommie: 063 568 4451.
Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
Gesels met ons: info@witbanknews.co.za
