Verlore as veilig
Rina Hough se moeite om twee nissies wat sy ontdek het terug te besorg aan die familie – het vrede gebring vir Cornelila Myburgh.
Twee nissies is veilig terugbesorg aan hul geliefdes nadat dit glo gesteel was.
Danksy die berig wat op WITBANK NUUS se webtuiste geplaas is, het lesers saamgespan en die nuus dat twee nissies tussen huisraad in Malelane gevind is, oraloor gedeel.
“Ek het die huisraad by ‘n egpaar gekoop en hulle het genoem dat hulle na eMalahleni verhuis. Toe ek die huisraad in die winkel begin uitpak, het ek die twee nissies ontdek,” het Rina Hough vertel.
Sy was baie verlig toe sy hoor die een oorledene se vrou is deur WITBANK NUUS se beriggewing opgespoor.


“Ek wou nie die as weggooi nie, dit was iemand se pa, man or broer,” het sy gesê.
Cornelia Myburgh was in trane toe sy hoor die nissies in teruggevind.
Sy het vertel hoe die lewe vir haar en haar seun verander het toe haar man, David, in ‘n motorongeluk oorlede is.
“Ons het vir maande in my seun se kar gebly en ons meubels by ‘n vriend gestoor. Ek het later met ‘n skok gehoor dat hy al ons huisraad en my seun se kar verkoop het,” het Cornelia vertel.
Sy en haar seun se lewenspad het hulle na Bloemfontein gelei waar hulle tans by familie woon.
Sy het gesê haar pa, Johannes Viljoen, het in eMalahleni gewoon en is in 2002 aan dikdermkanker oorlede.
“Vir Cornelia moes hierdie verlies ‘n tweede, onverwagte rouproses veroorsaak het,” het Rina gesê.
Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
Gesels met ons: info@witbanknews.co.za
