‘Bid vir Ruvé,’ vra ouers
Ruvé’tje is terug in die hospitaal en het eMalahleni se gebede nodig.
Die blydskap van klein Ruvé Henn se tuiskoms was van korte duur toe daar met haar teruggejaag moes word hospitaal toe omdat haar suurstofvlakke onverwags begin daal het.
Die 15-maande oue dogtertjie is op 13 Oktober ontslaan.
WITBANK NUUS het oor Ruvé geskryf toe een van mamma Adri en pappa Ruhan Henn se briewe aangestuur is.
Tussen die sinne het die ouerpaar hulle liefde vir die kleinding uitgestort omdat sy sedert haar premature geboorte ’n dapper stryd met gesondheidskomplikasies voer.
Sy het die wêreld betree met ’n piepklein 1.377kg. Die swangerskap was moeilik weens ’n toestand genaamd placenta previa, waar die plasenta die serviks bedek het.
Dit het veroorsaak dat Ruvé nie genoeg voedingstowwe gekry het om normaal te groei nie. Na haar geboorte het sy vyf weke in die neonatale intensiewesorgeenheid deurgebring.
Nadat sy uiteindelik huis toe is, het Ruvé erge breinvliesontsteking opgedoen wat haar breinvlies beskadig het.
Die klein dogtertjie het al twaalf breinoperasies ondergaan, en ’n plastiekbuis is al vyf keer ingesit om vloeistof te dreineer. Haar klein hartjie het ook al twee keer gaan staan.
“Sy is al so baie in die hospitaal gewees dat sy nie kans kry om te groei en te ontwikkel nie,” het Adri hartseer vertel.
Die Henn-gesin is nou weer in ’n onsekere tydperk terwyl Ruvé se suurstofvlakke gemonitor en gestabiliseer word.
“Bid asseblief vir Ruvé,” het Adri en Ruhan gevra.
Witbank Nuus sal die lesers op hoogte hou van Ruvé se vordering.
Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
Gesels met ons: info@witbanknews.co.za
