Local newsNews

Vuiste het gister geklap toe insleepdienste se humeure in die rooi ‘rev’

Die Witbank Insleepdiens Vereniging maan motoriste om seker te maak dat slegs geregistreerde insleepdienste hul voertuie sleep.

Humeure het gister vlamgevat by ’n botsingstoneel in Klipfontein toe insleepdienste mekaar getakel het.

‘n Video wat op sosiale media die rondte doen, wys hoe die vuiste swaai.

Bruce Kirton, eienaar van ’n insleepdiens, het aan WITBANK NUUS gesê die konfrontasie broei al drie weke lank.

“Ek sleep nie privaat mense se karre nie, maar wanneer een van my kliënte my bel, gaan ons dadelik uit en help.”

Hy het gesê hy het die Witbank Insleepdiens Vereniging genader om die situasie uit te sorteer, maar kon tot dusver nie die situasie ontlont nie.

Albert Holtzhausen, president van die vereniging het gesê die doel van die entiteit is om motoriste te beskerm teen uitbuiting.

“Daar is streng reëls en regulasies in plek om die motoris te beskerm en die wat dit nie volg nie, sal nie karre in eMalahleni sleep nie,” het hy dit duidelik gestel.

Hy het genoem dat elke insleepdiens wat aan die vereniging behoort, ’n kenmerkende plakker op hul insleepvoertuie het met ’n nommer.

Die insleepbakkies is almal by die polisie en verkeersafdeling geregistreer en sou daar enige probleme met ’n insleepvoertuig ondervind word, dit dadelik aangespreek word.

Polisiewoordvoerder, kaptein Eddie Hall het bevestig dat al die partye betrokke in gister se vuisgeveg by die polisiestasie was, drie mense is gearresteer en klagtes van rig van vuurwapen en aanranding is teen hulle oopgemaak.

Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, TwitterInstagram of TikTok

Gesels met ons: [email protected]

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button