Leerder wat onnies van trappe afstamp se saak uitgestel
Die onderwysers vrees vir hul veiligheid omdat die leerder wat hulle by die trappe afgestamp is, weer by die skool is.
Die hofsaak teen ’n 18-jarige leerder wat daarvan beskuldig word dat hy twee onderwysers van ’n plaaslike skool van die trappe afgestamp het, is uitgestel.
Die leerder het op 13 November in die hof verskyn.
Die voorval, wat op 9 September plaasgevind het, het wye verontwaardiging op sosiale media ontlok nadat ’n video van die insident, wat wys hoe die leerder beide onderwysers van die trappe voor die sekuriteitshek afstoot, viraal gegaan het.

Wat het gebeur?
Die twee onderwysers was op diens by die skoolhek om toe te sien dat leerders betyds opdaag.
Volgens sersant David Ratau, polisiewoordvoerder, het die betrokke leerder met oorfone op die skoolterrein verskyn.
Die onderwysers het hom gewaarsku dat dit nie by die skool toelaatbaar is nie en hom ook versoek om sy masker te verwyder – ’n versoek wat hy na bewering geïgnoreer het.
Toe die onderwysers die leerder na die administratiewe kantoor begelei, het die aanval op die trappe plaasgevind.
Die video toon hoe die leerder, nadat hy saam met hulle van die skoolhek gestap het, skielik teen die onderwysers te kere gaan en hulle van die trappe afstamp.
In ’n onverwante, maar onlangse tweede voorval, het leerders mekaar in die skool se badkamer getakel.
Daar word beweer dat die twee leerders betrokke by die vuisgeveg geskors is, en slegs toegelaat word om skool by te woon om eksamen te skryf.

Skool reageer op insidente
Op navraag oor hierdie twee insidente, het die skoolhoof gereageer:
“Soos elke skool het ons ’n dissiplinêre beleid wat gevolg moet word, soos wat ons gedoen het in die verhore van die beskuldigde leerders. Ons het die sake nie ligtelik opgeneem nie en gepaste sanksies is toegepas.”
Die skoolhoof het verder benadruk dat die skool aansienlike moeite doen met goeie sekuriteit en ander stelsels om die veiligheid van leerders en personeel te verseker.
“Ongelukkig het ons hierdie geïsoleerde gevalle wat dan op sosiale media verskyn en vir ons as skool baie sleg is,” het hy bygevoeg.
Die departement van onderwys het nie op navrae oor die sake gereageer nie.
Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
Gesels met ons: info@witbanknews.co.za
