3 dood in ongeluk
Een van die bakkies wat in die ongeluk naby Middelburg Dam betrokke was, het vanuit Emalahleni se rigting gekom.
Skaars nadat die LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Sekuriteit en Skakeling van Mpumalanga, mnr. Jackie Macie motoriste gewaarsku het om veilig te ry, is drie mense gisteroggend in ‘n gru-ongeluk naby Middelburg Dam oorlede
“Ons doen ‘n ernstige beroep op versigtige bestuur, en groter nakoming van die reëls van die pad ten alle tye. Padveiligheid is almal se verantwoordelikheid en dit begin by elkeen van ons. Terwyl wetstoepassing en noodpersoneel op hoë gereedheid bly, moet motoriste hul deel doen om padslagting te beëindig,” het Macie gesê
Sy woorde was skaars koud, toe drie mense dood is in ‘n botsing waarby twee bakkies op die N4 naby Middelburg Dam, betrokke was.
Na bewering het die bestuurder van die bakkie wat uit die rigting van Mbombela gekom het, beheer oor sy voertuig verloor en op die aankomende verkeersbane beland.
Dit het toe gebots met die ander bakkie wat vanuit Emalahleni se rigting gekom het.
Drie mense, ‘n manlike bestuurder en twee passasiers – ‘n jong seun en ‘n vrou is opslag dood.
Twee jong meisies wat ernstig beseer is, asook ‘n manlike bestuurder, ‘n vrou en ‘n jong seun met ligte beserings is na ‘n nabygeleë hospitaal gehaas.
‘n Ondersoek na die ongeluk is tans aan die gang.
