Soektog na motorfiets duur voort
As jy dié motorfiets gewaar, kontak Ettiene by 062 070 8084.
Daar is nog geen teken van die motorfiets wat die naweek in Blancheville gesteel is nie.
Dié Honda VT1100 Shadow wat in die vroeë oggendure van 29 November vanuit ’n erf in Rhoodestraat gesteel is, is baie meer as net ’n vervoermiddel. Vir Ettiene Becke dra dit baie sentimentele waarde.
“Hierdie was die laaste geskenk wat ek vir my vrou gekoop het. Sy is ’n jaar terug oorlede,” het hy emosioneel vertel.
Nadat die berig oor die diefstal op die WITBANK NUUS-webtuiste verskyn het, het Becke ’n oproep van ’n man uit Old Coronation ontvang wat beweer het die motorfiets is daar. Hy het egter gesê hy sal nie eens weet waar om te begin soek om die motorfiets self op te spoor nie.
Becke het gesê die diewe het die knippie van sy hek oopgebreek en so sy erf ingekom.
Die diefstal is slegs een van ’n reeks ongelukke wat Becke hierdie jaar getref het, wat hy opsom as: “Hierdie jaar was ’n absolute riller.”
Sy motor is later die middag in Secondstraat deur ’n ander voertuig gestamp.
Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
Gesels met ons: info@witbanknews.co.za
