Soektog na jong pa van eMalahleni eindig tragies
Dié jong pa se liggaam is op 16 Desember deur ’n veewagter gevind. ’n Moordsaak word nou deur Witbank polisie ondersoek.
’n Angstige soektog na ’n vermiste jong man het in hartseer geëindig vir die familie van dié jong pa, Willie Visser.
Sy liggaam is op 16 Desember in die Seekoeiwater-omgewing gevind nadat hy vroeër die week as vermis aangemeld is.
Visser se skoonma, Ina Vice, het hom in Reynorif by ’n vriend afgelaai. Volgens Vice was die plan dat hy later die dag self sou terugstap huis toe.

Toe hy egter nie teen die verwagte tyd tuis opdaag nie, het die familie begin bekommerd raak omdat dit nie in sy aard was om so lank weg te bly van die huis af nie.
Vice het die hulp van die gemeenskap ingeroep deur op Zello ’n beroep te doen op enigiemand wat hom dalk langs die pad sien stap het, om dit dadelik aan te meld.
Terwyl die soektog voortgeduur het, het Visser se suster, Hanri Visser, haar tot sosiale media gewend. In ’n emosionele pleidooi het sy gevra dat enige persoon met selfs die kleinste bietjie inligting oor waar haar broer is, die familie dringend moet kontak.
Volgens polisiewoordvoerder, kaptein Eddie Hall, het ’n veewagter op 16 Desember op die liggaam van ’n man in die Seekoeiwater-omgewing afgekom. Die liggaam is intussen as dié van die vermiste Willie Visser geïdentifiseer.
Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
Gesels met ons: info@witbanknews.co.za
