Local newsNews

Dumisani se storie een van baie

Dumisani Mahlangu se lewe gaan nooit weer dieselfde wees nie. Hy sukkel om te registreer vir 'n ongeskiktheidstoelaag nadat sy hande afgekap is.

Het jy al probeer om iets vas te hou sonder om jou hande te gebruik?

Net om jou knope vas te maak of toilet toe te gaan is onmoontlik wanneer die twee instrumente waarmee jy die meeste werk doen, skielik weg is.

Dumisani Mahlangu.

Wanneer Dumisani Mahlangu afkyk na die twee stompies waar sy hande was, spoel emosies van kwaad en haat oor hom.

Hy sukkel om die pastoor en sy seun te vergewe omdat hulle hom van sy onafhanklikheid ontneem het toe hulle sy hande vroeër die jaar afgekap het.

Sy lewe het op 20 Maart ’n 180 grade draai gevat.

Dumisani hou vol hy het niks van die kerk gesteel nie, tog het pastoor Solomon Mhlanga (66) en sy seun Enock (21) hom nie geglo nie.

Dumisani Mahlangu in die hospitaal.

GRAFIESE INHOUD NIE VIR SENSITIEWE LESERS NIE

Dumisani het gesê hy het verby die kerk in Kwa-Guqa gestap toe hy deur ’n groep mans voorgekeer was wat hom beskuldig het dat hy ’n battery by die kerk gesteel het.

Hulle het hom met stokke en vuiste geslaan en die pastoor en sy seun het hom na ’n verlate gebied in Kromdraai geneem waar hulle sy een hand op ’n boomstomp gesit en met ’n panga afgekap het.

Dumisani se hulpkrete het deur die stiltes weergalm en hy het gesmeek dat die ander hand nie afgekap moet word nie.

Hy het vertel hy het geskok gestaar na die hand wat ‘flip-flops’ voor hom in die sand gemaak het.

Sy ander hand is ook afgekap.

Die woorde ‘indoda ifela empini – ’n man sterf in die stryd’ – die laaste woorde wat die pastoor vir hom gesê het voor hy in sy bakkie ingeklim en weggery het.

Apostle Solomon Mhlanga en sy seun Enoch Mhlanga in die hof op 9 April.

Dumisani se pa kyk nou na hom

Johannes Mahlangu (66) se deurdringende kyk laat jou gou verstaan – hierdie man is nog tradisievas.

Hy glo aan bymekaarkom en probleme uitstryk, handskut en ‘it takes a village to raise a child’.

Hy het vrae wat hy aan die pastoor wou vra, “Is hy nie veronderstel om vrede te preek nie. Is dit wat die Bybel hom geleer het? Watter boodskap gee jy oor aan jou gemeente, moet jy bloed met bloed vergeld? Is dit ’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand?”

Johannes het omgedraai en na sy ander wang gewys en gesê, “My God is ’n God van liefde, ek is geleer om my ander wang te draai.”

Johannes dien saam met Dumisani nou hul eie ‘lewenslange vonnis’ uit.

“Ek het gehoop dat wanneer ek sterf, hy die een sou wees wat my kis uit hierdie huis sou dra. Nou moet ek sy tande borsel, ek voer hom, en was hom en vat hom toilet toe …”

Die verkeersligte in nou Dumisani se kantoor

Dumisani kan gereeld by verkeersligte gesien word waar hy wanhopig staan.

Sonder hande klem hy ’n plastiekkoppie onbeholpe tussen sy twee stompies vas.

Sommige motoriste gee ’n paar sent of ’n stukkie brood; ander vloek hom uit terwyl hulle verbyjaag en daar is die wat hom herken.

KLIEK HIER OM DIE VIDEO KORT NADAT DUMISANI IN DIE HOSPITAAL OPGENEEM IS

Dumisani dra diep emosionele letsels.

Hy wens hy kon die klok terugdraai tot voor 20 Maart, maar wat dan?

Hoe sou hy dit anders doen?

Terwyl Dumisani wegstap smekend tot by die volgende kar, hou hy hoopvol die bestuurder dop, net miskien is daar ’n paar sente, ’n krieseltjie genade …

SIEN DIE TIKTOK VIDEO HIER

Dumisani se onderhoud na afloop van die hofverrigtinge 

Hoe vergewe Dumisani die pastoor wat homself ’n ‘man van God’ noem, maar soos die duiwel optree?

“My pa het vergewe. My pa slaap nou rustig in die aand. Ek, ek sal nooit daardie man vergewe nie. Ek is ’n gevangene in my omstandighede. Ek kan nie eers my eie trane afvee nie. Nee, ek sal hom nie vergewe nie.”

Die Engelsman het van die dorp afgekom en vir hom sy whiskey met ’n ‘eish’ geskink.

Die ‘eish’ het teen die glas geklink soos die realiteit van Dumisani se stompies.

Met sy eiesoortige wysheid het hy gesê Dumisani se lot is nie uniek nie.

“Eiegeregtige geweld aangehits deur emosies het reeds soveel lewens verwoes,” het hy geseg.

Volgens hom is die maatbeker van die gemeenskap tot oorlopens toe vol. Mense is siek en sat vir misdaad wat soos kanker vreet.

“Dumisani se storie is ’n bloeiende wond van ons land,” het die Engelsman saggies die gesprek geëindig.

Deel jou nuuswenke met ons: info@news@mweb.co.za 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button