eMalahleni het ook ‘n Grons wat die Kersgees probeer demp
Kwaaddoeners het die Kersliggies aan ‘n boom in Blancheville afgeruk, maar Kersliggie-tannie weier dat dit die feestelikheid blus.
Wat ’n tyd van samesyn moes wees, het in ’n oggend van woede en teleurstelling vir die bekende ‘Kersliggie-tannie’ van Blanchestraat ontaard.
Riana du Plessis, wat jaarliks haar tuin in ‘n skitterende Kersfees-paradys omskep, het vanoggend met ’n skok ontdek dat vandale haar sypaadjie-liggies gisternag verwoes het.
Die kwaaddoeners het die liggies, wat om die bome op die sypaadjie gedraai was, afgeruk en gesteel.
“Daar is net ’n stuk van die draad met liggies oor. Die swernote het ’n deel van die Kersliggies afgebreek en die res net so gelos,” het Du Plessis ontsteld gesê.
Vir Du Plessis gaan die liggies oor veel meer as net versiering.
Haar tuin is ’n groot trekpleister vir plaaslike inwoners en veral kinders, wat grootoog staan en kyk na die sprankelende uitstalling.
Sekuriteitskameras reg oorkant die Du Plessis-woning wys hoe die liggies presies om 02:58 doodgaan.
“Dis juis weens sulke voorvalle dat mense naderhand nie meer die moeite wil doen nie,” het ’n moedelose Du Plessis gesê.
Sy het met hartseer onthou hoe sy en haar dogter verlede jaar op 24 Desember as Kersvader en ’n elf aangetrek het om lekkergoedpakkies aan die kinders van Blancheville uit te deel.
Selfs die projek het suur uitgedraai.
“Ons was letterlik net vir ’n paar sekondes elders besig, maar toe ons terugkeer na die tafel, het twee mans en ’n vrou met ses van die pakkies weggehardloop.”
As gevolg van hierdie negatiewe ervarings, het sy besluit om haar vrygewigheid elders te fokus.
“Ek gaan nie weer vanjaar hier lekkergoed uitdeel nie. Ek gaan eerder die pakkies na Witbank Hospitaal neem vir die kinders daar,” het sy besluit.
