Ruvé sterf na 18-maande lange stryd
Ruvé was te broos vir hierdie wêreld, tog het sy dit reggekry om duisende mense saam te laat bid.
Na maande se veg het die 18 maande oue Ruvé Henn gesterf.
Haar ouers, Adri en Ruhan Henn, het die nuus op 21 Februarie gedeel.
Die kleinding was op 17 Februarie weer in die hospitaal opgeneem, waar dokters vasgestel het dat Ruvé’tjie aan nierversaking ly.
Sy was ongelukkig nie ’n kandidaat vir dialise of enige verdere behandeling nie.
Adri en Ruhan was aangeraai om haar so gemaklik moontlik te hou en soveel tyd as moontlik saam met haar te spandeer.
WITBANK NUUS het Ruvé se storie begin volg deur briewe wat Adri uit haar eie hospitaalbed ná ’n motorongeluk aan haar kleinding geskryf het.
Die briewe het harte aangegryp; tussen die woorde en paragrawe het die ouers hul harte en hul onmeetbare liefde vir hul babadogtertjie uitgestort.
LEES MEER Die 15-maande oue Ruvé Henn is terug in die hospitaal. Haar ouers vra vir gebede
Adri het vertel dat Ruvé met geboorte ’n skamele 1,377 kg geweeg het.
Omdat die plasenta tydens die swangerskap die serviks bedek het, het Ruvé nie genoeg voedingstowwe gekry om normaal te groei nie.
Na haar geboorte het sy vyf weke in die neonatale intensiewesorgeenheid deurgebring.
Nadat sy uiteindelik huistoe is, het Ruvé erge breinvliesontsteking opgedoen wat haar brein beskadig het.
Die dogtertjie het altesaam twaalf breinoperasies ondergaan, en ’n sjunt (plastiekbuis) is herhaaldelik ingesit om vloeistof te dreineer.
Haar klein hartjie het ook al twee keer gaan staan.
Inwoners was diep geraak deur Ruvé se storie. en tydens ’n gholfdag wat gehou is om fondse vir haar in te samel, was byna R1 miljoen bymekaargemaak om die gesin met mediese uitgawes te help.
“Ons wil elkeen van julle uit die diepte van ons harte bedank vir al die ondersteuning, gebede, telefoonoproepe, liefde en hoop waarmee julle ons dierbare klein Ruvé’tjie oorstroom het,” was die boodskap van Adri en Ruhan af.
WITBANK NUUS se innige simpatie gaan uit na die Henn gesin.
