eMalahleni man dood in ongeluk buite Ermelo
Die ongeluk wat net buitekant Ermelo gebeur het, het die lewe van ’n gesin in eMalahleni uitmekaargeruk.
’n Ongeluk vroeër die week, net buite Ermelo, het die lewe van ’n 30-jarige man van eMalahleni geëis.
Danie Greyling is op 3 Maart opslag dood in die ongeluk wat op die N2, sowat 10km buite Ermelo gebeur het.
Volgens die Highvelder het nooddienste kort na 04:00 na die toneel gejaag, waar hulle Greyling, ’n ketelmaker van DIG Mining en ’n trok aangetref het.
LEES DIE BERIG VAN DIE HIGHVELDER KOERANT HIER
Dié pa van drie kinders, Duan (10), Amone (7) en Line (3) was op pad terug van Piet Retief af van die werk af, toe die ongeluk plaasgevind het.
Greyling se ma, Kotie, het saggies vertel dat hy haar ‘baby’ was.
“Ek het hom Bok genoem, sy bynaam was ook Manne. Dit het van sy ouma af gekom wat hom kleintyd Mannetjie genoem het,” het sy vertel.
Tussen die trane het sy vertel dat haar aanraak-kind wat so graag drukkies uitgedeel het, altyd geglimlag het.
“Ek was onrustig toe hy Maandagaand uitgeroep is. Toe hy die volgende oggend nog nie by die huis is nie, het ek hom gebel en boodskappe gestuur, maar dit het nie deurgegaan nie,” het Kotie vertel.
Pa van 3 sterf in ongelukhttps://t.co/aZrJaBk3Sq #witbanknews #localnews #DanieGreyling #accident pic.twitter.com/Ys6ujSInbX
— WitbankNews (@WitbankN) March 5, 2026
“Manne het altyd laat weet dat hy op pad is; ek het net geweet iets is fout,” het Kotie vertel.
Greyling se lewensmaat, Angelique Bezuidenhout, het ook probeer bel en boodskappe gestuur, maar sonder sukses.
Kotie het vertel dat sy later ’n oproep ontvang het van ’n man wat gesê het hy het haar seun se selfoon in die pad opgetel.
“Ek het gedink die man maak ’n fout, en hom bedank vir sy eerlikheid. Dis toe hy sê hy is van die polisie ….”
Greyling se pa, Herkie, was in die Kongo en het inderhaas teruggevlieg.
“Ek het heeltyd gehuil, dit is so onwerklik,” het hy gesê.
”My kind is vermink, dis lelik,” het die pa hortend gesê terwyl ‘n enkel traan teen sy wang afgeloop het.
Kotie het vertel dat hulle Saterdag van Bronkhorstspruit af eMalahleni toe getrek het, juis omdat die pad gevaarlik was vir Greyling om heen en weer werk toe te ry.
”My kind het drie dae in die nuwe huis geslaap wat ons gekry het om dit vir hom veiliger te maak”.
Greyling was ‘n leerder van Laerskool Taalfees, Reynorif en toe Hoërskool Generaal Hertzog.
Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,
Volg ons op website, Facebook, X, Instagram or TikTok
Epos: info@witbanknews.co.za
